Nuus 17:00
BULLETIN 11 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC-Jeugliga-president, Collen Malatji eis gesamentlike aanspreeklikheid vir ANC se agteruitgang
# Die Forum4SA bevraagteken ampsdraers se salarisverhogings
# En, Meghan Markle se pa terug tronk toe na hy sy enkelmonitor verwyder
# Die president van die ANC-Jeugliga, Collen Malatji, sê die ANC se handelsmerk is oor baie jare skade berokken. Malatji het reageer op oudpresident Thabo Mbeki se opmerkings dat president Cyril Ramaphosa dit moet oorweeg om te bedank ná die verkiesingsuitslag. Malatji sê die party se swak vertoning in die 2026- plaaslikeregeringsverkiesing kan nie net voor die deur van die huidige leierskap gelê word nie. Hy sê die party se leiers moet groter aanspreeklikheid aanvaar vir die skade aan sy beeld:
# Forum4SA bevraagteken president Cyril Ramaphosa se besluit om salarisverhogings van tussen 3,5- en vier-persent aan openbare ampsdraers toe te staan. Die verhogings vir die 2026/27-boekjaar is terugwerkend tot 1 April 2026. Woordvoerder Tebogo Mashilompane erken die Onafhanklike Kommissie se rol, maar sê dit is onregverdigbaar te midde van hoë werkloosheid, armoede, stygende lewenskoste en swak dienslewering. Die organisasie eis dat die Presidensie en die Parlement die ekonomiese redes moet verduidelik, die aanpassings teen die werklikheid moet opweeg, en dienslewering en aanspreeklikheid te prioritiseer.
# Wandile Sihlobo van die Landboubesigheidskamer sê indiensneming in die landbousektor het tussen die tweede en derde kwartaal van 2026 met ongeveer vier-persent gedaal, maar die sektor bly steeds veerkragtig. Volgens Statistiek Suid-Afrika het Suid-Afrika se werkloosheidskoers in die derde kwartaal effens tot 33,7-persent gestyg, vergeleke met 33,6 persent in die vorige kwartaal. Sihlobo sê indiensneming staan op 911-duisend, wat heelwat hoër is as die langtermyn-gemiddelde van 800-duisend. Hy sê boere het te kampe met stygende insetkoste soos brandstof en kunsmis, wat druk op die sektor plaas.
# Thomas Markle, die vervreemde pa van Brittanje se Hertogin van Sussex, Meghan Markle, is terug in aanhouding in Amerika na hy na bewering sy elektroniese enkelmonitor afgehaal het. Die 82-jarige is aanvanklik onder huisarres vrygelaat nadat hy aangekla is van die besit van materiaal wat seksuele misbruik van kinders uitbeeld. ‘n Regter het sy vrylating opgeskort na owerhede gerapporteer het dat hy die moniteringstoestel vroeg Dinsdag verwyder het. Hy sal in aanhouding bly, sonder die keuse van borg, terwyl die saak voortduur. Markle ontken die bewerings teen hom.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Wendy Kaizer-Philander, sê dis belangrik om aktief oud te word en geleenthede vir ouer mense te skep om gesond en onafhanklik te leef en sosiaal te verkeer. Twee-en-neëntig ouer persone het die provinsie verlede maand in Bloemfontein verteenwoordig op die Nasionale Program vir Aktiewe Veroudering, ook bekend as die Goue Spele. Kaizer-Philander sê die verskeie sportbedrywighede is daarop gemik om aktiewe veroudering, fisieke gesondheid, geesteswelstand en sosiale insluiting te bevorder:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-789-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-43-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….