Nuus 16:00
BULLETIN 11 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusimusi “Cat” Matlala beskuldig IDAC van vals bewyse teen Bheki Cele
# Die ANC in Groter-Johannesburg bevestig tugoptrede teen Thuthukile Zuma
# En swem: Die VF Plus eis dringende optrede nadat Tatjana Smith oorstap na Nederland
# Die vermeende misdaadsindikaat-hoof Vusimusi “Cat” Matlala beskuldig die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie dat bewyse versin is om die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, te betrek in korrupsie en aan te kla. Matlala het voor die Madlanga-kommissie getuig ondersoekers het betalings aangedik en ‘n vals geskiedenis tussen hom, Cele en wyle taxibaas Mswazi Msibi geskep. Hy sê hul eerste werklike ontmoeting was in Desember 2024, nadat hy Cele voorheen op Msibi se begrafnis gesien het:
# Oudpresident Jacob Zuma en oudminister Nkosazana Dlamini-Zuma se dogter, Thuthukile, het bedank uit die uitvoerende streekkomitee van die ANC in Johannesburg. Sy sê partyleiers het haar probeer stilmaak omdat sy haar uitspreek teen organisatoriese wanfunksionering. Die party se woordvoerder, Mantombi Nkosi, sê Zuma se bedanking volg nadat streeksekretaris Sasabona Manganye ‘n tugproses ingestel het weens haar beweerde versuim om haar pligte na te kom en haar kritiek teen die ANC op sosiale media:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê pogings werp vrugte af om werk te skep in die provinsie. Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname het werkloosheid in die derde kwartaal tot 19,4-persent gedaal teenoor 19,5-persent in die vorige kwartaal – heelwat laer as die nasionale werkloosheidsyfer van 33,7-persent. Winde sê daar is tans 69-duisend meer werksgeleenthede in die Wes-Kaap as ʼn jaar gelede:
Nuus uit die buiteland:
# Nvidia is onder die vergrootglas ná bewerings dat ‘n Chinese sakevrou verbind aan die uitvoerende hoof, Jensen Huang, betrokke was by die smokkel van beperkte mikroskyfies na China. Haar netwerk het glo gehelp om beperkte Nvidia-mikroskyfies ter waarde van minstens 123-miljard-rand na China te verskuif. Huang erken ‘n verhouding met haar, maar ontken enige kennis van beweerde spioenasie. Nvidia se raad het ‘n onafhanklike ondersoek ingestel en daar is geen bewyse dat maatskappygeheime of nasionale veiligheid in die gedrang is nie. Amerikaanse wetgewers vra intussen strenger beheer oor die uitvoer van mikroskyfies na China.
# Swem: Die Vryheidsfront Plus gaan die minister van Sport, Gayton McKenzie, vra om dringend in te gryp na Tatjana Smith se aankondiging sy gaan voortaan vir Nederland swem. Suid-Afrika se beste Olimpiese atleet mik na die Spele van 2028 in Los Angeles en sê sy voel uitgesluit en afgeskeep. Smith het regstappe gedoen om 578-duisend-rand se prysgeld van 2023 se Wêreldkampioenskap in Fukuoka te bekom wat Swem Suid-Afrika teruggehou het. Woordvoerder Heloïse Denner beskuldig die beheerliggaam van administratiewe onbevoegdeheid, finansiële wanbestuur en minagting van swemmers, en eis ‘n onafhanklike ondersoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-967-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-44-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….