Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Chinese motorvervaardigers in Suid-Afrika is in die soeklig namate meer voertuie herroep word. Die onttrekking raak byna 23-duisend Chery- en Omoda-voertuie wat in 2022/23 vervaardig is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die Jayden-Lee Meek-moordsaak. Dit het in die hof aan die lig gekom dat die polisiefotograaf nie foto’s van Jayden-Lee se kamer of die badkamer geneem het nie omdat ‘n ander beampte met ‘n hond sy aandag afgelei het. Jayden-Lee se ma Tiffany word aangekla van die moord.
En tweedens skryf die webblad ook Chery het sowat 24-duisend voertuie uit die mark onttrek met twee Chery Tigo-modelle en sekere Omoda C5-voertuie wat geraak word. Volgens Chery kan die voertuie sweiswerk-onreëlmatighede naby die agteras hê.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal het die grootste jaarlikse afname in werkloosheid onder Suid-Afrika se metropolitaanse munisipaliteite aangeteken, met 101-duisend minder werklose inwoners en ‘n beduidende toename in indiensneming in die formele sektor. Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van 2026, is eThekwini die enigste metro waar ‘n afname in werkloosheid aangeteken is.
# Sowetan:
Berig oor die omstrede Cat Matlala se verskyning voor die Madlanga-kommissie. Die koerant skryf oor sy erkenning van die betaling van 550-duisend-rand aan die voormalige adjunkkommissaris, Shadrack Sibiya, asook die skenking van Impala-bokke aan die generaal.
# En The Citizen:
Skryf kenners waarsku indien die ANC nie dringend korrupsie aanspreek nie, kan die party terugsak tot een van die kleiner partye in 2029.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het ‘n brief aan die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, geskryf waarin hy onderneem om terug te tree as Johannesburgse burgemeesterskandidaat indien Helen Zille dieselfde doen. Die koerant skryf die onderhandelingspanne van die DA en ActionSA vergader môre om die toekoms te bespreek.
En tweedens skryf die koerant ook oor die onttrekking van die Chery- en Omoda-voertuie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC se streeksekretaris in Nelson Mandelabaai, Siphiwo Tshaka, se magte is deur die party se streekkomitee ingeperk na die ANC se swak vertoning in die plaaslikeregeringsverkiesing. Tshaka het dit verwerp en sê die komitee is nie by magte om dit te doen nie.
En tweedens skryf die koerant skokkende noodoproepe is tydens die verhoor van die sakeman Rob Evans in die Hooggeregshof in Gqeberha gespeel. Hy word aangekla van die moord op sy vriendin, Vanessa van Rensburg
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die verdere verhoging van die Suid-Afrikaanse werkloosheidsyfer, maar ook oor eThekwini waar daar 101-duisend werksgeleenthede geskep is.
En tweedens word berig ‘n verdere daling in brandstofpryse word in Desember verwag.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se planne om beheer oor sy ontluikende olie- en gasbedryf onder die Presidensie te sentraliseer, kan kritieke finansiële en omgewingswaarborge verswak. Die koerant skryf dit kan ook die land aan politieke inmenging blootstel en miljarde in potensiële petroleuminkomste kwesbaar laat.
En tweedens skryf die koerant Die Kilo 40-plaas noord van Otjiwarongo berei voor om ongeveer twee-duisend-500 beeste ter waarde van sowat 32,5-miljoen-rand na Mauritius uit te voer.