Nuus 06:00
BULLETIN 11 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die jongste werkloosheidsyfer maak bestendige plaaslike regering nog meer dringend
# Chery en Omoda roep meer as 23-duisend voertuie terug weens veiligheidskwessies
# En swem: Tatjana Smith gaan voortaan onder die Nederlandse vlag deelneem
# Die DA sê Suid-Afrika se jongste syfers oor indiensneming is nog ’n herinnering aan die enorme taak wat voorlê, en die belangrikheid van die uitslag van verlede week se plaaslikeregeringsverkiesing. Die amptelike werkloosheidskoers het in die derde kwartaal van vanjaar met 0,1-persentasiepunt tot 33,7-persent gestyg. Volgens die Kwartaallikse Arbeidsmagopname het die aantal werklose mense 8,6-miljoen bereik. Die DA se nasionale woordvoerder, Jan de Villiers, sê daar is, vergeleke met ’n jaar gelede, 215-duisend minder mense in die land in diens:
# Die Verkiesingskommissie het ’n herstemming in wyk drie van die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit in die Noord-Kaap gelas, nadat meer as 100 stembriewe vernietig is toe ’n telsentrum bestorm is. Die stemming sal op 18 November by die Bongani-gemeenskapsaal plaasvind, van sewe-uur die oggend tot nege-uur die aand. Slegs kiesers wat in die betrokke stemdistrik geregistreer is, mag stem. Spesiale stemme sal op 17 November uitgebring word, en aansoeke sluit op 14 November.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het die herroeping van meer as 23-duisend-600 Chery- en Omoda-voertuie weens veiligheidsgebreke aangekondig. Die herroeping raak die Chery Tiggo 4, Tiggo 8 Pro Max en die Omoda C5-modelle. Phetho Ntaba van die kommissie sê die gebreke kan in sommige voertuie tot die onklaarraking van die agterste vering lei, terwyl ‘n probleem met die rempype in sekere Tiggo 8 Pro Max-modelle kan veroorsaak dat remvloeistof lek en die remvermoë verswak:
# Suid-Afrika vier Bewusmakingsmaand vir Gestremdheidsregte van 3 November tot 3 Desember en die Gautengse departement van Gesondheid versterk rehabilitasiedienste en toegang tot hulpmiddels. Onder die tema “Die skep van multi-sektorale vennootskappe vir ‘n samelewing wat persone met gestremdhede insluit”, het die departement in 2025/26 altesaam 51-duisend-866 prosteses, ortoses en looptoerusting verskaf; ‘n toename van 23-persent vergeleke met die vorige 42-duisend-258. Die departement se woordvoerder Steve Mabona sê dienste word deur vier sentrums en plekke gelewer, benewens gedesentraliseerde ortotiese dienste by 20 hospitale.
# Russiese, Oekraïnse en Amerikaanse amptenare het Dinsdag die eerste dag van vredesamesprekings in Abu Dhabi afgesluit sonder om ‘n ooreenkoms te bereik. Die samesprekings sal vandag hervat word. Die onderhandelinge is die eerste direkte samesprekings tussen Moskou en Kiëf sedert Februarie. Geen deurbraak is aangekondig nie, met grondgebied wat die grootste struikelblok bly. Rusland wil beheer hê oor die hele Donbas-streek, terwyl Oekraïne weier om grond wat hy nog besit, te oorhandig. Washington dring ook aan op veiligheidswaarborge vir Oekraïne, maar Moskou is gekant teen direkte betrokkenheid deur Europese lande.
# Swem: Suid-Afrika se mees bekroonde Olimpiese atleet, Tatjana Smith, het amptelik besluit om vir Nederland deel te neem, nadat Wêreldwatersport dit goedgekeur het. Die viervoudige Olimpiese medaljewenner, wat in September ná ‘n onderbreking van twee jaar teruggekeer het, het beide Suid-Afrikaanse en Nederlandse burgerskap. Haar eerste byeenkoms onder die Nederlandse vlag sal die Wêreldkampioenskap in kortbadswem in Desember in Beijing wees. Smith sê sy wil ‘n nuwe rigting in haar sportloopbaan verken, met die oog op die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-628-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-31-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….