Nuus 18:00
BULLETIN 10 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse werkloosheidskoers styg effens tot 33,7-persent
# Minister Kgosientsho Ramokgopa vra vir ‘n doelbewuste benadering tot kernkragindustrialisering
# En, sokker: Die voormalige Arsenal afrigter, Arsène Wenger oorweeg om vir FIFA se presidentskap te staan
# Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het tussen Julie en September effens tot 33,7-persent gestyg, vergeleke met 33,6-persent in die vorige kwartaal. Die aantal werklose mense het met 97-duisend toegeneem tot 8,6-miljoen, terwyl die aantal ontmoedigde werksoekers met 70-duisend tot 3,7-miljoen gestyg het. Reagan Adams van Statistiek Suid-Afrika sê die breër maatstaf van arbeidsonderbenutting, wat werklose mense en ontmoedigde werksoekers insluit, bly onveranderd op 46,3-persent:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering moet plaaslike maatskappye doelbewus ondersteun om Suid-Afrika se kernenergiebedryf te bou. Ramokgopa het tydens die Konferensie oor Kern- en Skoonenergie in Pretoria gesê ’n voorgestelde kernindustrialiseringsplan van tien gigawatt moet plaaslike vervaardigingsvermoëns en verkrygingsgeleenthede identifiseer. Hy sê ondernemings het duidelike spesifikasies en langtermyn beleggingsekerheid nodig. Hy erken mislukkings kan gebeur, maar beklemtoon die regering moet innovering en voortgesette ontwikkeling ondersteun:
# Die getuienisleier van die Madlanga-kommissie, advokaat Mahlape Sello, het bewerings verwerp dat gesprekke met die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala nie-amptelik was. Dit volg na bewerings deur Matlala se regsverteenwoordiger, advokaat Annelene van den Heever, van etiese wangedrag. Sy sê ‘n ondersoeker was teenwoordig om ‘n formele verklaring af te neem, en aantekeninge deur al die betrokke partye bevestig dit. Sello het bewerings van vertroulikheid betwis en gesê daar was geen ooreenkoms om die gesprekke nie-amptelik te hou nie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Spaanse polisie-offisier in die stad Oviedo is dood en ‘n ander beseer nadat ‘n ploftoestel in ‘n rugsak ontplof het. Die beamptes het reageer op ‘n skietery waarin ‘n 17-jarige meisie tydens ‘n geskil tussen twee families gewond is. Die rugsak was by die ingang van ‘n gebou en die beamptes was besig om dit te verwyder toe dit ontplof het. Die beampte wat gesterf het, was ‘n lid van die polisie se honde-eenheid en die beseerde beampte, wat sy been verloor het, is ‘n plofstofspesialis. Die polisie is op soek na die verdagte.
# Sokker: Arsenal se gewese afrigter, Arsène Wenger, oorweeg dit om FIFA se president, Gianni Infantino, uit te daag in volgende jaar se verkiesing. Europese ampsdraers oorweeg die 77-jarige as ‘n moontlike kandidaat, maar hy het nog nie finaal besluit nie. UEFA gaan na verwagting hierdie week die moontlikhede bespreek voor die spertyd van 18 November waarop kandidate moet aantoon hulle wil staan. Wenger is sedert 2019 FIFA se hoof van internasionale ontwikkeling. Die verkiesing vind op 18 Maart in Marokko plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-794-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-60-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….