Nuus 16:00
BULLETIN 10 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eenheid 2 van die Koeberg-kernkragsentrale slaag ‘n kritiese kernveiligheidstoets
# Al meer Suid-Afrikaners steun op verskeie leners terwyl die skulddruk toeneem
# En rugby: Rassie erken Frankryk se kaptein Antoine Dupont hou ‘n moeilike uitdaging in
# Eskom sê Eenheid 2 van die Koeberg-kernkragsentrale het ’n kritieke kernveiligheidstoets geslaag, wat die strukturele integriteit en digtheid van sy insluitingsgebou bevestig. Die geïntegreerde toets vir lekkasietempo word elke tien jaar uitgevoer as deel van regulatoriese vereistes. Eskom sê in ‘n verklaring onafhanklike internasionale kundiges het bevestig die eenheid voldoen aan alle veiligheidstandaarde. Die mylpaal ondersteun die verlenging van Koeberg se bedryfslisensie met 20 jaar. Onderhoudswerk sal voortduur voordat Eenheid 2 weer in bedryf gestel word.
Die voorsitter, Mteto Nyati, sê intussen die kragvoorsiener betree ‘n nuwe era van verantwoordelike energiebestuur, toegespits op bekostigbare en betroubare krag. Nyati het tydens die Kern- en Skoon-energie-konferensie in Pretoria gesê Eskom beweeg ná meer as 500 dae sonder beurtkrag weg van krisisbestuur na langtermyn-energiebeplanning. Nyati sê kernkrag en skoon-steenkool-tegnologie ondersteun energiesekerheid, en planne vir 5,2-gigawatt se kernkragkapasiteit is in die vooruitsig:
# Suid-Afrikaners wend hulle toenemend tot kleinhandelaars, mikroleners en aanlyn leners vir kontant namate finansiële druk toeneem. DebtBusters se jongste Skuldindeks toon dat banke nou slegs 65-persent van nuwe skuldberadingsaansoekers se lenings uitmaak, die laagste vlak ooit. Byna twee derdes van aansoekers het kitslenings, terwyl die gemiddelde persoon ‘n rekord van 8.8 kredietooreenkomste het. Benay Sager van DebtBusters sê middelinkomsteverdieners word veral onder druk geplaas deur stygende lewenskoste, met toenemende finansiële stres onder jonger en ouer verbruikers:
Nuus uit die buiteland:
# Noord-Korea beskuldig die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres, dat hy hom by Suid-Korea skaar in ‘n geskil oor ‘n landmyn-ontploffing naby hulle gedeelde grens. Die suster van die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un, Kim Yo Jong, kritiseer Guterres omdat hy die twee Koreas aanmoedig om dialoog te hervat om die spanning te ontlont. Drie Suid-Koreaanse soldate is gewond in September se ontploffing in die gedemilitariseerde sone. Seoel en die VN beweer die Noorde het die landmyne geplant, maar Pyongyang ontken aanspreeklikheid en sê die Suide versin bewyse.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus erken die onvoorspelbaarheid van Frankryk se kaptein, Antoine Dupont, hou ‘n moeilike uitdaging in in Vrydag se Nasieskampioenskaps-wedstryd in Parys. Hy glo die skrumskakel se instink maak hom besonder moeilik om in toom te hou, en dat selfs sy eie spanmaats nie altyd weet wat hy gaan doen nie. Frankryk het sy aanvals-potensiaal getoon toe hy Fidji verlede naweek in Lyon 54-17 oorrompel en agt drieë gedruk het.
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-163-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-75-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….