Nuus 15:00
BULLETIN 10 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Veelparty-afvaardiging verteenwoordig die Parlement by COP31
# NEHAWU wens die SAKP geluk met sy prestasie in die plaaslikeregeringsverkiesing
# En: Engen stel ‘n nuwe premium brandstof-handelsmerk bekend
# Suid-Afrikaanse parlementslede is van vandag tot 20 November deel van ‘n veelparty-afvaardiging by COP31 in Antalya, Turkye. Die afvaardiging sal deelneem aan parlementêre gesprekke oor klimaatbefondsing, veerkragtigheid, ‘n regverdige oorgang, bioverskeidenheid, hernubare energie en klimaatsgeregtigheid. Woordvoerder Nqabisa Gantsho sê die beraad se uitkomste sal parlementêre toesig versterk en help om toekomstige wetgewing te vorm:
# Die vakbond NEHAWU sê die SAKP se vertoning in die verkiesing moet dien as bousteen om sy teenwoordigheid in gemeenskappe en sy rol in werkers se stryd te versterk. Die party het die eerste keer onafhanklik aan die verkiesing deelgeneem. Sy 264 raadslede sal hul plek inneem wanneer rade binne twee weke die eerste keer vergader. NEHAWU se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê die SAKP se prestasie toon ‘n behoefte aan politieke verteenwoordiging vir die werkersklas:
# Die Suid-Afrikaanse petroleumgroep Engen het ‘n nuwe premium brandstof-handelsmerk, V-Max, bekendgestel, wat sy premium petrol- en dieselprodukte onder een naam saamvoeg. Engen sê die brandstof gebruik gevorderde bymiddels om ekonomie, enjin-prestasie en beskerming te verbeter. Nywerheidstoetse toon V-Max kan tot 25-kilometer se bykomende reikwydte by ‘n tenk brandstof voeg. Dit verwyder ook tot 100-persent van neerslae op getoetste enjin-onderdele. Die maatskappy sê ware voordele verskil afhangend van rytoestande en die soort voertuig.
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 10 mense is dood in twee groot botsings waarby ongeveer 50 voertuie betrokke was op die Trakia-snelweg in Bulgarye. Die botsings het vanoggend naby Jambol plaasgevind, in digte mis en op nat paaie. Verskeie voertuie, insluitend busse en swaar vragmotors, het aan weerskante van die snelweg gebots. Talle mense is beseer, en volgens berigte is van hulle in ‘n bedenkilke toestand. Noodspanne vanuit vier streke is ontplooi en die pad is steeds in beide rigtings gesluit. Owerhede vermoed swak sig het tot die botsings bygedra.
# Krieket: Indië het sy spanne aangekondig vir ‘n multi-formaat vrouetoer na Suid-Afrika in Desember, met Smriti Mandhana wat die span in al drie formate as kaptein sal lei. Jemimah Rodrigues keer terug ná ‘n besering, terwyl die 21-jarige Jintimani Kalita haar eerste wedstryd vir die span sal speel. Die voormalige kaptein, Harmanpreet Kaur, is by al drie spanne ingesluit. Die toer skop op 9 Desember af met ‘n eenmalige toetswedstryd in Gqeberha, gevolg deur drie eendagwedstryde en drie T20-kragmetings. Die eendagwedstryde sluit ook ‘n kragmeting op 19 Desember in Kaapstad in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-159-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-72-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….