Nuus 14:00
BULLETIN 9 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê plaaslike regering moet dienslewering se enjinkamer wees
# Maatskaplike Ontwikkeling vra samewerking om gestremde kinders se sorg te verbeter
# En rugby: Rassie sê die Springbokke moet verbeter voor hulle Frankryk en Ierland pak
# President Cyril Ramaphosa sê kiesers se stemme moet nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Die Verkiesingskommissie het die verkiesing vry en regverdig verklaar. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief plaaslike regering moet ‘n enjinkamer vir dienslewering, ʼn aandrywer van ontwikkeling en skepper van geleenthede wees. Hy sê kiesers het dit deur hul stemme duidelik gemaak dat mense wat met openbare dienslewering vertrou word, hul verantwoordelikhede ten volle moet nakom.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vra die regering, burgerlike samelewing en gemeenskappe om sorg vir kinders met gestremdhede te verbeter. November is Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes. Woordvoerder Lumka Oliphant sê gesamentlike en kinder-gerigte dienste is noodsaaklik. Sy sê proefprojekte verskaf reeds verligting aan versorgers in Mpumalanga en die Noord-Kaap. Oliphant sê die departement werk ook saam met die Japanse Agentskap vir Internasionale Samewerking en ander departemente om vroeë identifisering van gestremdhede te verbeter:
# Die Johannesburgse Metropolisiedepartement het bevestig dat hy geen verdraagsaamheid teenoor geslagsgeweld toon nie nadat ʼn manlike verdagte gister in die middestad aangekeer is. ʼn Op en wakker superintendent het tydens ʼn patrollie op ʼn aktiewe toneel op die hoek van Von Wielligh- en Melrose-straat afgekom. Woordvoerder Xolani Fihla sê volgens die geregsdienaar het die verdagte sy vriendin ernstig aangerand:
# Die gewese Amerikaanse president, Joe Biden, se dokters bly bemoedig oor sy reaksie op kanker-behandeling. Die 83-jarige het in Mei verlede jaar sy kanker-diagnose onthul. Sy boek, “Promise Me, America,” word volgende Dinsdag vrygestel. Biden sê in ‘n verklaring dit handel oor sy jare as president, die uitdagings, besluite wat hy geneem het en sy vertroue in Amerikaners. Hy sê terwyl hy sy behandeling voortsit, kan hy nie soveel openbare besprekings oor die boek hanteer soos hy gehoop het nie.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle moet verbeter voor volgende naweek se kragmetings met Frankryk en Ierland, al het hulle Italië 66-7 verneder in die eerste ronde van die Nasieskampioenskap se noordelike reeks. Suid-Afrika was rustyd 45-0 voor na ses drieë, maar het in die tweede helfte rustiger gespeel. Erasmus sê dit was nie perfek nie, maar is tevrede met die dissipline nadat hulle min strafskoppe afgestaan en geen kaarte ontvang het nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-62-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-97-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….