Nuus 15:00
BULLETIN 9 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke en Interpol arresteer nege buitelanders wat van Johannesburg na Oekraïne wou reis vir die oorlog
# Vusimuzi “Cat” Matlala betwis die gebruik van verklarings uit ‘n mislukte pleitooreenkoms
# En: COP31-leiers vra vinniger optrede om klimaatsverandering aan te pak
# Nege buitelandse burgers, tussen 20 en 26 jaar oud, is by OR Tambo-lughawe en ‘n Bruma-hotel in Gauteng in hegtenis geneem terwyl hulle na bewering voorberei het om by die Russies-Oekraïnse oorlog aan te sluit. Polisiewoordvoerder Katlego Mogalehe sê die arrestasies volg op ‘n gekoördineerde ondersoek waarby die polisie, die Valke en Interpol betrokke was. Die verdagtes staan tereg op aanklagte ingevolge die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Bystand. Owerhede het die multidissiplinêre span se pogings geloof om Suid-Afrikaanse wetgewing af te dwing en misdaad te bestry. Mogalehe sê hulle sal binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn.
# Die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala se regspan betwis die Madlanga-kommissie se gebruik van verklarings wat hy tydens ‘n pleitooreenkoms gemaak het. Matlala het skuld beken op aanklagte wat verband hou met ‘n polisietender en ingestem om teen mede-beskuldigdes, insluitend senior polisiebeamptes, te getuig. Die ooreenkoms het egter in duie gestort nadat ‘n hof die voorgestelde vonnis as te lig verwerp het, waarna Matlala onttrek het. Sy regspan voer nou aan verklarings tydens onderhandelings word beskerm en die kommissie behoort dit nie te gebruik nie:
# Die Johannesburgse Metropolisie herinner alle politieke partye en onafhanklike kandidate om hul verkiesingsplakkate binne 14 dae ná die verkiesing te verwyder, soos vereis deur die 2009-verordeninge op buitelugreklame. Die stad se woordvoerder Xolani Fihla sê indien partye versuim om hieraan te voldoen, sal munisipale spanne die plakkate verwyder en ‘n boete van 500-rand per plakkaat uitreik. Fihla beklemtoon dit onstsier nie net die omgewing nie, maar skep ook veiligheidsrisiko’s en kan skade aan bates aanrig. Hy versoek partye dringend om verantwoordelikheid te neem en hul plakkate te verwyder:
# Wêreldleiers het tydens die opening van die COP31-beraad in Turkye vandag regerings gevra om dringend pogings teen klimaatsverandering te bespoedig. Die klimaatshoof van die VN, Simon Stiell, waarsku vordering met die vermindering van skadelike gas-uitlatings is nie naastenby vinnig genoeg nie, met stygende temperature en uiterste weerstoestande wat lewens en ekonomieë bedreig. Die Verenigde Nasies is van mening 2026 kan een van die vier warmste jare ooit wees. Die beraad fokus op die omskakeling van beloftes in daadwerklike optrede, insluitend die uitbreiding van skoon energie en om kwesbare lande te help teen die gevolge van die klimaatkrisis.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, beskou homself nie as gunsteling in die ATP-eindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin nie. Die Spanjaard het oënskynlik sy beste spelpeil herwin toe hy gister die Amerikaner Ben Shelton verslaan het in die eindstryd van die Paryse Meesterstoernooi nadat hy vier maande van die seisoen misgeloop het met ‘n gewrigsbesering. Alcaraz sê enigiets kan gebeur in Turyn, waar die wêreld se beste agt spelers meeding:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-388-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-107-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….