Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC staan voor moeilike koalisiegesprekke ná die party se verkiesingsterugslag. En oor die DA skryf die koerant die party volg ‘n nasionale strategie vir koalisie-onderhandelinge wat onder federale leiding sal plaasvind.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het tydens die aankondiging van die verkiesingsuitslae gewaarsku dat koalisiegesprekke nie moet ontaard in ‘n bakleiery vir posisies nie.
En tweedens skryf die webblad oor die moeilike koalisiegesprekke in Johannesburg aangesien ActionSA nie saam met Helen Zille wil werk nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het berigte verwerp dat Ramaphosa oorweeg om te bedank. Die koerant skryf die ontkenning volg op bewerings deur minstens vyf lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee dat Ramaphosa die moontlikheid geopper het om af te tree. Hy het glo voorgestel dat die ANC se topleiers verantwoordelikheid moet neem vir die opeenvolgende verkiesingsnederlae.
# Sowetan:
Berig die ANC sal vroeg in die week vergader om sy koalisiestrategie te bespreek. Intussen skryf die koerant die DA, MK-party en EFF het ‘n oog op magsoorname in die 138 munisipaliteite waar daar nie ‘n volstrekte meerderheid is nie.
# En The Citizen:
Skryf die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het die mag in sy hande om die leierskap in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni te bepaal. Die koerant vra watter rol gaan sy onwilligheid om met Helen Zille van die DA saam te werk, sy besluite beïnvloed.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Netwerk24 oor Ramaphosa se waarskuwing oor koalisiegesprekke en gee ook ‘n volledige uiteensetting van die 14 dae van koalisiegesprekke wat voorlê vir politieke partye.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n nuwe Suid-Afrikaans-ontwerpte KI-projek wat help om pasiënte te diagnoseer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die vermoorde UDM-raadslid, die 45-jarige Luxolo Namette, wat doodgeskiet is in Motherwell. Hy is buite ‘n haarkappersalon in die kop geskiet. Die UDM het gevra dat die polisie se Taakspan vir Politieke Moorde die saak ondersoek.
En tweedens skryf die koerant die leiers van alle politieke partye het die moord veroordeel.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig eerstens oor bespiegeling dat die ANC nie maklik die mag in Ekurhuleni gaan afstaan nie.
En tweedens gee die koerant ‘n uiteensetting van die volledige verkiesingsuitslae.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor die afsterwe van die bekende Namibiese mediapersoonlikheid, die 73-jarige Chrisna Greeff. Die koerant skryf sy het ’n blywende uitwerking op die medialandskap en gemarginaliseerde gemeenskappe gelaat.
En tweedens skryf die koerant Namibiese president Netumbo Nandi-Ndaitwah vermoed sabotasie in medisynetekorte en privaat ambulansdienste wat sukkel om kop bo water te hou weens hemelhoë brandstofpryse.