Nuus 06:00
BULLETIN 9 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK verklaar die plaaslikeregeringsverkiesing as vry en regverdig
# Die massaskietery in Pole word as terrorisme ondersoek
# En rugby: Eben Etzebeth sluit by die Bokke in Frankryk aan, terwyl Yaqeen Ahmed huis toe gestuur word
# Die Verkiesingskommissie het die plaaslikeregeringsverkiesing van 2026 as vry en regverdig verklaar. Altesaam 29,2-miljoen Suid-Afrikaners het as kiesers geregistreer, en 14,9-miljoen het hul stemme uitgebring – wat op ‘n stempersentasie van 52-persent neerkom. Die verkiesing het 213 rade, 10-duisend-526 beskikbare setels, 520 politieke partye en 636 onafhanklike kandidate behels. Met die aankondiging van die uitslae gisteraand in Johannesburg, het die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, gesê die ANC het die meeste stemme, 30,76-persent, ontvang en 3-duisend-246 raadsetels verower, gevolg deur die DA, die MK-party, die EFF en ActionSA:
Die kommissie sê ook ‘n herstemming sal plaasvind by ‘n telstasie in Douglas, Noord-Kaap, waar stembriewe deur aktiviste van ‘n plaaslike politieke party vernietig is. Die aktiviste het die stasie bestorm en stembriewe geskeur voordat die telling kon begin. Moepya sê die kommissie is gereed om enige besware wat ná die verkiesing ingedien word, te oorweeg. Hy sê die herstemming in Douglas sal spoedig afgehandel word:
# Burgerlike samelewingsorganisasies doen ‘n beroep op die regering om die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste terug te trek, veral die bepalings wat die minister van Indiensneming en Arbeid sou magtig om kwotas vir buitelandse werkers in verskeie ekonomiese sektore en beroepe af te dwing. Die regering het aangekondig dat die voorgestelde wysigings daarop gemik is om arbeidsmigrasie te reguleer, werkers te beskerm en werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners te bevorder. Die organisasies het kommer uitgespreek oor die toenemende regeringsbeheer oor indiensnemingspraktyke en die moontlike impak daarvan op ondernemings en die arbeidsmark.
# Die polisie in die Wes-Kaap het ‘n skietvoorval by die Bellville-taxistaanplek veroordeel, waarin vier mans dood is, terwyl nog ‘n persoon en ‘n kind Saterdagaand beserings opgedoen het. Die polisiewoordvoerder, Frederick van Wyk, sê voorlopige verslae dui daarop dat die slagoffers omstreeks nege-uur by die langafstandgedeelte van die taxistaanplek was, toe vier gewapende verdagtes in twee voertuie opgedaag het. Hy sê die omstandighede rondom die skietvoorval word steeds ondersoek:
# Pole se Nasionale Aanklaerskantoor het ‘n terreurondersoek van stapel gestuur nadat ses mense dood en nog 16 gewond is in Saterdag se aanval in Kraków. ‘n 24-jarige Poolse burger, geklee in militêre klere, het op ‘n besige markplein losgebrand en vier vroue en twee mans doodgeskiet. Hy is deur die polisie gewond, en is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal. Die polisie sê drie liggame is ná die aanval by die gewapende man se huis gevind. Hulle is geïdentifiseer as sy pa, ma en suster. Amptenare vermoed dat sy “ultra-nasionalistiese” oortuigings die aanval aangevuur het.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth sal na verwagting vandag by die nasionale groep in Frankryk aansluit, nadat hy vir die Nasieskampioenskap opgeroep is. Hy is aanvanklik weens ‘n enkelbesering uit Rassie Erasmus se toergroep gelaat, maar het intussen suksesvol herstel. Etzebeth se insluiting kom ten koste van die losskakel Yaqeen Ahmed, wat na Suid-Afrika moet terugkeer om van ‘n skouerbesering te herstel. Erasmus sal vandag sy groep van 23 spelers aankondig vir Vrydagaand se groot kragmeting teen Frankryk op die Stade de France.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-209-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-69-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 101-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….