Nuus 07:00
BULLETIN 9 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die land het weer eens die krag van sy demokrasie bewys
# Die regering sit riglyne uiteen vir die instelling van nuwe munisipale rade
# En twee treine bots in Egipte, wat tot die dood van sewe mense lei
# President Cyril Ramaphosa sê die plaaslikeregeringsverkiesing bewys die volgehoue krag van Suid-Afrika se demokrasie en soewereine reg van burgers om hul verteenwoordigers te kies. Altesaam 14,9-miljoen mense het in die verkiesing gestem, waar die ANC nasionaal die meeste stemme gekry het. Ramaphosa het gisteraand in sy toespraak ná die verklaring van die finale verkiesingsuitslag in Gauteng, die inkomende raadslede gevra om hul verantwoordelikhede na te kom en gemeenskappe te dien:
Intussen waarsku Ramaphosa politieke partye om nie toe te laat dat koalisie-onderhandelinge in ‘n stryd om posisies en mag ontaard nie. Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni is onder die 136 munisipaliteite sonder ʼn volstrekte meerderheid, terwyl Kaapstad die enigste metro in die land is waar die DA dit wel bereik het. Ramaphosa het gesê die bestendigheid van munisipaliteite kan nie opgeoffer word vir eng politieke belange nie:
# Die regering sê die aandag verskuif nou na die totstandkoming van nuwe munisipale rade, ná die aankondiging van die finale uitslae van die plaaslikeregeringsverkiesings. Die fokus is nou om te verseker dat nuwe raadslede bestuur, aanspreeklikheid en dienslewering versterk. Die Departement van Samewerkende Regering, die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering het maatreëls uiteengesit om provinsies en munisipaliteite deur die oorgangstydperk te lei. Die regering sê munisipale finansiële bestuur sal steeds ’n kernverantwoordelikheid van die nuwe rade wees.
# Suid-Afrika bied van vandag tot Vrydag die gesamentlike vergadering van ministers van gesondheid, sowel as ministers verantwoordelik vir MIV en VIGS, van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban, KwaZulu-Natal aan. Foster Mohale, woordvoerder van die Departement van Gesondheid, sê die vergadering vind plaas op ‘n kritieke tydstip vir die streek se gesondheids- en ontwikkelingsagenda. Hy sê dit bied aan ministers die geleentheid om streeksamewerking te versterk, gesondheidsekerheid te verbeter en ooreen te kom oor praktiese maatreëls om opkomende openbare gesondheidsuitdagings regoor die streek aan te spreek:
# President Abdel Fattah al-Sisi van Egipte het opdrag gegee dat ondersoek ingestel word nadat minstens sewe mense gister dood en meer as 100 beseer is toe twee treine gebots het. ʼn Trein wat van die Fayoum-provinsie onderweg was, het van agter teen ʼn trein gebots wat op pad was na die Aswan-provinsie in die suide. Volgens berigte is passasiers wat in een van die stilstaande trein se waens vasgekeer was, dood. Amptenare waarsku dat die dodetal kan styg. Al-Sisi sê persone wat nalatig was, moet aanspreeklik gehou word.
# Rugby: Engeland het Australië gister met 45-22 afgeransel in hul Nasieskampioenskap-kragmeting op Twickenham. Steve Borthwick se span het sewe drieë gedruk, waarvan Henry Pollock twee bygedra het om Engeland se hoogste puntetelling ooit teen die Wallabies te behaal. Dis Australië se derde agtereenvolgende verloor-wedstryd ná verlede maand se nederlae teen Nieu-Seeland. Ná sterk mededinging in die afgelope naweek se internasionale rugby, spog Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Wallis en Frankryk ook met oorwinnings in hul onderskeie Nasieskampioenskap-wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-233-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 100-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….