Nuus 06:00
BULLETIN 5 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK is bemoedig deur die kiesersopkoms in die verkiesing
# Die Amerikaanse middeltermynverkiesingsuitslae beïnvloed wêreldpolitiek en -handel
# En rugby: Vianca Boer sal die jong Springbok-vrouesewesspan in Kenia lei
# Die Verkiesingskommissie sê stemmery in die plaaslikeregeringsverkiesing het landwyd goed verloop, ten spyte van geringe uitdagings. Teen vyf-uur gistermiddag het 12-miljoen mense gestem. Gauteng het die voortou geneem met drie-miljoen, gevolg deur KwaZulu-Natal met 2,5-miljoen en die Wes-Kaap met 1,5-miljoen. Tydens ‘n mediakonferensie gisteraand by die nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, het die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, gesê alle stembriewe word by die stemlokaal waar dit uitgebring is getel:
Terwyl stemme ná die plaaslike regeringsverkiesing intussen getel word, loop die DA tans nasionaal voor met 34,73-persent van die stemme. Die ANC is tweede met 33,35-persent, gevolg deur die Vryheidsfront Plus met 7,21-persent. Die Patriotic Alliance is vierde, terwyl die EFF die topvyf afrond. Die SAKP, wat onafhanklik aan die verkiesing deelgeneem het en daarmee die geskiedkundige ooreenkoms verbreek het om altyd sy alliansievennoot, die ANC, te ondersteun is tans nasionaal vyfde met 2,9-persent van die stemme.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het herbevestig dat die hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering ’n deurslaggewende verandering vir Suid-Afrika se plaaslike regering sal teweegbring. Die hersiene Witskrif stel ’n onderskeidende benadering tot munisipale befondsing voor, met die erkenning dat metropolitaanse munisipaliteite en kleiner landelike munisipaliteite verskillende verantwoordelikhede, hulpbronbehoeftes en uitdagings ten opsigte van dienslewering het. Hlabisa sê munisipaliteite het bekwame raadslede nodig wat doeltreffende politieke toesig kan uitoefen:
# Pikitup sê hy verwag om agterstallige afvalverwydering in Johannesburg binne die volgende week uit die weg te ruim. Roodepoort, Randburg, Norwood, Marlboro en Waterval is van die gebiede wat steeds geraak word. Die stad se afvalbestuur het sy operasionele kapasiteit verhoog om opgehoopte afval te verwyder, terwyl geskeduleerde afvalverwydering in gebiede waar dienste gestabiliseer het, voortgesit word. Pikitup het verskoning gevra by inwoners wat geraak word en ’n beroep op gemeenskappe gedoen om onwettige storting te vermy.
# Die Demokrate se oorweldigende oorwinning in Amerika se middeltermynverkiesing kan wêreldwyd uitkring. Die uitslae kan druk op president Donald Trump verhoog oor Iran, terwyl dit die weg baan vir hernude militêre hulp aan Oekraïne en Amerikaanse steun vir Israel. Lande met handelsooreenkomste met Washington behoort minder druk te voel om Trump se tarief-eise te aanvaar. Trump bly egter in die amp, en hy beheer steeds buitelandse beleid. Die Amerikaanse buitelandse beleidsontleder, Jon Alterman, sê presidente wat politieke beperkings tuis in die gesig staar, kan redelik vrylik in die buiteland optree.
# Rugby: Vianca Boer gaan die naweek ‘n jong Springbok-vroue Sewes-‘A’-span tydens die Rugby Africa-vroue-sewes-toernooi in Kenia aanvoer. Suid-Afrika kom in Groep A teen Zambië, Zimbabwe en Rwanda te staan. Die hoofafrigter Cecil Afrika het ‘n onervare groep gekies, terwyl voorbereidings vir die 2027-seisoen nou momentum begin kry. Vier spelers het reeds ervaring van die HSBC-sewesreeks, terwyl vier ander onlangs die Junior Springbok-vrouespan verteenwoordig het. Aangesien Suid-Afrika reeds vir volgende jaar se HSBC Sevens 2-reeks gekwalifiseer het, kan die toernooi gebruik om opkomende talent te ontwikkel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-577-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-61-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….