Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die Internasionale Monetêre Fonds het sy groeivooruitsig vir Suid-Afrika tot 0,9-persent verlaag teenoor die Reserwebank se voorspelling van 1,2-persent. Die fonds sê die mediumtermynvooruitsigte is die swakste in dekades.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die moordbeskuldigde, Werner de Jager was siek en volgens die Departement van Korrektiewe Dienste is gerugte oor sy selfdood ongegrond.
Dan skryf die koerant oor die skoolhoof van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, Leon Bantjies wat met ‘n renmotor op die rugbyveld aandag gevestig het op die skool se opedag volgende week.
En laastens is daar ‘n brokkie oor die moordsaak teen Madeleine Ackerman van Ballito wat erken het sy het haar vierjarige dogter in ‘n emmer verdrink.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Bernice Swarts se beweerde poging om die koerant te snoer het misluk. Dit gaan oor ‘n sakeman wat beweer die minister het hom bedrieg.
En tweedens word berig die Gautengse Departement van Gesondheid stel dringend ondersoek in na die styging in die aantal gevalle van voedselvergiftiging onder kinders.
# En Sowetan:
Berig dit het aan die lig gekom dat miljoene bestee is deur ‘n maatskappy wat aangestel is om te midde van talle skandale die beeld van die sokkerbaas, Danny Jordaan te verbeter.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die berig oor De Jager.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n kameelperdkalfie wat op die geskiedkundige Doornkloof Voortrekkerplaas gebore is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad oor dominee Liezel de Jager se vermeende moordenaar.
En tweedens word berig die proses is begin om vir die rektor en vise-kanselier van Universiteit Stellenbosch, professor Wim de Villiers ‘n opvolger te vind.
# En Cape Times:
Skryf Ster-Kinekor gaan 236 werknemers aflê.
En berig die kleiner partye in die Wes-Kaap ondersteun die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Volkswagen Groep Afrika het sy verbintenis met die Oos-Kaap herbevestig en aangekondig hy gaan vier-miljard-rand in sy Kariega-aanleg belê.
En skryf tweedens die inwoners van die Gqeberha-woonbuurt, Newtonpark is woedend nadat ‘n groep haweloses tente op ‘n straathoek in die woongebied opgeslaan het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar was gister chaos in eThekwini toe taxigroepe die hoofroetes na Durban afgesper het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die uitspraak in die hofsaak oor sowat 20-duisend hektaar waarop ‘n Russiese miljardêr beplan om ’n gasteplaas te ontwikkel, word in Augustus verwag.
En skryf tweedens daar is aanduidings dat Namibië ernstige voedseltekorte gaan ervaar – veral in stapel-graangewasse.