Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 November 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig partye het die naweek hul laaste verkiesingsbyeenkomste gehou om stemme te werf vir die plaaslikeregeringsverkiesing. Die koerant skryf mislukkings in dienslewering en korrupsie het die veldtogboodskappe oorheers.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die laaste verkiesingsaamtrek van die ANC in KuGompo-stad [Oos-Londen] het duisende ondersteuners gelok. Die stadion met ‘n kapasiteit van 17-duisend was die oggend reeds vol terwyl nog busse en taxis met ondersteuners aangekom het. Die Oos-Kaap is een van die provinsies waar die ANC aansienlike steun geniet.
En tweedens skryf die webblad die 20-jarige Kimi Antonelli is die jongste Formule 1-wêreldkampioen ná sy skouspelagtige vertoning tydens die Mexikaanse Grand Prix waar hy derde geëindig het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oudpresident Jacob Zuma het teruggekeer om deel te neem aan die MK-party se verkiesingsveldtog nadat hy 11 dae in die hospitaal deurgebring het. Hy het gister duisende ondersteuners van sy party in KwaMashu toegespreek. Die koerant berig die 84-jarige oudpresident het sy eerste openbare verskyning in persoon by die Prinses Magogo-stadion in Durban gemaak sedert hy op 17 Oktober uit die hospitaal ontslaan is.
# Sowetan:
Berig die EFF het ‘n vernederende nederlaag gely toe die Kieshof beslis het een van sy kandidate, Sivuyile Tshikila, is sonder sy medewete en onwillig as kandidaat aangewys. Die hof het beslis Tshikila het reeds uit die party bedank toe die EFF hom op die kandidaatlys ingesluit het.
# En The Citizen:
Skryf Johannesburg se watersituasie het verder vererger. Daar is geen aksieplan opgestel nie, en nie sprake van enige krisisbestuur nie. Voorts is daar geen kommunikasie van die stadsraad nie, terwyl sekere gebiede reeds elf dae sonder water moet klaarkom.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die leier van die DA, Geordin Hill-Lewis, sê daar is Woensdag net twee perde in die resies en dis die ANC of die DA. Hy het tydens die laaste verkiesingsbyeenkoms in Mamelodi, Pretoria gesê die ANC se ondergang is die begin van Suid-Afrika se herstel.
En tweedens skryf die koerant die Wes-Kaapse polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen na die dood van die agtjarige graad 1-leerder van Manenberg Primary School, Toheer Lewid, wat na bewering beserings opgedoen het in ’n voorval met vuurwerke in Manenberg.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n hoërskool in Gqeberha wat onder ‘n reuse-kuberaanval deurgeloop het. Die persoonlike inligting van die onderwysers en leerders het in die slag gebly en die skool doen tans stappe om die probleem te hanteer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor Zuma se terugkeer na die verkiesingsveldtog en berig dit het nuwe lewe geblaas in die MK-party se ondersteuners.
En tweedens berig die koerant oor al die ander partye wat hul verkiesingsveldtogte die naweek afgesluit het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig twee rentekoers-verhogings vanjaar deur die Bank of Namibia beteken huiseienaars moet duisende rand meer opdok om hul skuld terug te betaal.
En tweedens skryf die koerant ten spyte van die uitbreking van bek-en-klouseer in die Kharasstreek en die gevolglike demper wat dit op uitstallers en die streek plaas, kon die 70ste Keetmanshoop Landbou-, Nywerheids- en Toerismeskou steeds voortgaan.