Nuus 06:00
BULLETIN 2 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Na verwagting word meer as 2,6-miljoen spesiale stemme vandag en môre uitgebring
# President Ramaphosa onderneem om aandag te skenk aan die kwessies wat tydens hul veldtog geopper is
# En rugby: Die Bok-vroue sak terug op die wêreldranglys ná hul tweede nederlaag teen Ierland
# Die Verkiesingskommissie het weer bevestig hy is gereed vir die plaaslikeregeringsverkiesing, met meer as 2,6-miljoen kiesers wat vandag en môre hul spesiale stemme sal gebruik. Altesaam 80-persent van die goedgekeurde huisbesoeke is vir kiesers ouer as 60, terwyl vroue verantwoordelik is vir 74-persent van die goedgekeurde spesiale stemme. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die spesiale stemproses is vir bejaardes, mense wat sieklik is en die met gestremdhede, asook kiesers wat nie op verkiesingsdag by hul geregistreerde stempunte kan stem nie:
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party het geluister na die bekommernisse en uitdagings wat Suid-Afrikaners tydens sy verkiesingsveldtog geopper het. Hy het gister die hooftoespraak gelewer tydens die party se finale Siyanqoba-saamtrek voor die verkiesing, by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane in die Oos-Kaap. Ramaphosa sê die ANC het kennis geneem van oproepe vir beter werksomstandighede, ’n verlaging in die lewenskoste, optrede teen geslagsgeweld, en groter ondersteuning vir mense met gestremdhede:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die koste vir die ontbondeling van Eskom se transmissiebates kan wissel tussen 80-miljard-rand en 130-miljard-rand. Die eerste-fase-verslag van die Eskom-herstruktureringstaakspan skets die breë benadering vir die stigting van ‘n onafhanklike transmissiestelsel-operateur. Die tweede fase van die taakspan se werk is reeds aan die gang en sluit ‘n volledige instelplan, wettige ondersoeke en ‘n strategie vir skakeling met leners in. Ramokgopa sê Suid-Afrika volg ‘n versigtige benadering om nadelige gevolge te vermy.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering het 21 van die 67 riglyne teen geslagsgeweld en vrouemoord voltooi, met ‘n verdere 38 wat reeds aan die gang is. Hy het die media gister ingelig oor die provinsie se 90-dae Geslagsgeweld en Vrouemoord-reaksieplan. Dit volg op presidensiële riglyne en ‘n vierpuntplan om die misdrywe in die provinsie te bestry. Lesufi sê daar is steeds uitdagings, veral om forensiese agterstande in te haal, inligting oor sakeherwinning te kry en munisipale veiligheidsingrype te versnel:
# Die Duitse minister van Binnelandse Sake, Alexander Dobrindt, het gewelddadige linkse groepe en aanstigters uit migrantegemeenskappe beskuldig dat hulle die vreedsame betogings oor die naweek gekaap het. Betogings oor die lewenskoste, wat deur die ‘Gen Z has got this!’-beweging gereël is, het gewelddadig geraak toe gemaskerde betogers winkels in Frankfurt, Berlyn, Keulen en Hamburg geplunder het. Die polisie moes waterkanonne gebruik om skares uiteen te dryf. In Berlyn is minstens 60 mense in hegtenis geneem vir oortredings wat skade aan eiendom, aanranding en verset teen nooddienste insluit. Dobrindt het gepleit vir swaar strawwe vir die aanstigters en plunderaars.
# Rugby: Die Springbok-vroue het teruggesak na die tiende plek op die wêreldranglys ná hul tweede opeenvolgende toetsnederlaag teen Ierland in die W-15-wêreldreeks. Ierland het Saterdag in Kaapstad met 38-17 gewen, ná hul oorwinning van 40-27 die vorige naweek. Suid-Afrika sou tot die agtste plek op die wêreldranglys gevorder het indien hulle Ierland vir die eerste keer ooit kon klop. Die span se medehoofafrigter, Franzel September, sê hulle het vanjaar goeie vordering gemaak, en die volgende fase van hul ontwikkeling sal wees om spanne soos Ierland te verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-836-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-896-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 116-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….