Nuus 13:00
BULLETIN 31 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê ware ekonomiese gelykheid bly ’n werk in wording
# O’Sullivan dreig met regsoptrede oor Mkhwanazi se moontlike aanstelling as Valke-hoof
# En, Amerika keur verkope van 500 Patriot-missiele aan Oekraïne goed
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se politieke bevryding moet volgens ekonomiese hervorming beoordeel word. Hy het gister in Pretoria jongmense, beroepslui, entrepreneurs en kunstenaars by ‘n ANC-jeugliga-geleentheid toegespreek. Ramaphosa sê ware ekonomiese gelykheid bly ʼn werk in wording. Hy beklemtoon die behoefte om toegang tot grond, sakeondernemings, fabrieke en tegnologie uit te brei en terselfdertyd ordentlike werk te skep en seker te maak alle Suid-Afrikaners kry geleentheid om ryk te word:
# Die EFF sê hy vertrou hy het met sy verkiesingsveldtog die mense op voetsoolvlak bereik. Die party hou vandag sy laaste verkiesingsaamtrek op die Orlando-stadion in Soweto in ʼn laaste stemwerf-poging voor die plaaslikeregeringsverkiesing. Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, sê hulle sal in alle koalisie-onderhandelings voorkeur gee aan werksgeleenthede, beter munisipale dienste en gemeenskapsontwikkeling:
# Die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, dreig met regsoptrede om te keer dat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, as die Valke se nuwe nasionale hoof aangestel word. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het ooreenkomstig die SAPD-wet ʼn memorandum by die Kabinet ingedien om die aanstelling te bevestig. O’Sullivan voer aan Mkhwanazi is nie die geskikte en bevoegde persoon om die Valke te lei nie. Hy sê sy organisasie, Forensics for Justice, gaan die aanstelling betwis indien die regering nie die proses opskort of vir openbare ondersoek oopstel nie.
# Die Wes-Kaapse Departement van Mobiliteit verwelkom die tussentydse interdik teen die taxiverenigings, CATA en CODETA. Dit volg ná die week se hernude taxigeweld wat minstens drie lewens by die Palm-taxistaanplek in Delft geëis het. Skietvoorvalle is ook aangemeld by taxistaanplekke in Mfuleni, Khayelitsha en Gugulethu. Die LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê die interdik verbied geweld, intimidasie, padversperrings, inmenging by openbare of privaat vervoer, onwettige oorname van roetes, skade aan eiendom en geld-invordering deur dreigemente:
# Amerika se Departement van Buitelandse Sake het ingestem om 500 Patriot PAC-3-missiele aan Oekraïne te verkoop teen ʼn koste van sowat 35,11-miljard-rand. Hierdie missiele is van die min wapens wat inkomende ballistiese missiele kan afskiet. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, vra lankal nog missiel-onderskeppers om sy land teen toenemende Russiese lugaanvalle te beskerm. Die departement sê Kiëf sal vir die aankope betaal met fondse van Kanada, Duitsland en Noorweë, asook ʼn lening van die Europese Unie. Hy sê die missiele sal Oekraïne se veiligheid versterk.
# Sokker: Die doelskieter van Orlando Pirates, Evidence Makgopa sal vandag streef om sy indrukwekkende doelrekord teen Kaizer Chiefs te verbeter wanneer die twee spanne in die Soweto-derby kragte meet. Makgopa het reeds vier doele teen die Amakhosi aangeteken, meer as al die spelers van albei spanne in hierdie wedstryd. Hy het in die derby van November 2024 ‘n doel aangeteken, twee in Mei 2025, en weer tydens Pirates se oorwinning van 3–0 in Februarie vanjaar. Die Buccaneers en die Amakhosi kom vanmiddag op die FNB-stadion teen mekaar te staan. Die afskop is om half-vier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….