Nuus 08:00
BULLETIN 1 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê die komende verkiesing is ‘n tweestryd tussen die DA en die ANC
# Malema sê die verkiesing is ‘n keuse tussen oorwinning of ondergang
# En krieket: Die Proteas herwin die nommer een-posisie ná sy sege oor Australië
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, beskryf die plaaslikeregeringsverkiesing Woensdag as ‘n tweestryd tussen sy party en die ANC. Hy het gister gepraat tydens die party se laaste verkiesingsbyeenkoms in Tshwane. ‘n Onlangse Ipsos-meningspeiling toon die DA staan tans op 25-persent teenoor die ANC op 31-persent, maar die verskil in sleutelmetro’s is aansienlik kleiner. Hill-Lewis sê die verkiesing bied kiesers die geleentheid om die land se koers te verander en vertroue in Suid-Afrika se toekoms te herstel:
Die EFF-leier, Julius Malema, beskryf intussen die verkiesing as ‘n saak van oorwinning of ondergang en sê Suid-Afrikaners sal steeds worstel teen korrupsie, onbevoegdheid en gebrekkige plaaslike regering indien sy party nie wen nie. Dit was gister ook die EFF se laaste verkiesingsbyeenkoms op die Orlando-stadion in Soweto. Malema beskuldig politici en kontrakteurs dat hul munisipaliteite misbruik vir persoonlike gewin terwyl gemeenskappe vasgevang bly in swak dienslewering:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê ekonomiese groei is Suid-Afrika se hoofprioriteit, en erken dat fiskale beleid alleen nie die groei kan skep wat nodig is om werkloosheid te takel nie. Weens wêreldwye druk het die Nasionale Tesourie sy groeivooruitsig vir 2026 verlaag van 1,6 persent na 1,2 persent. Hy het deelgeneem aan die Kgalema Motlanthe-stigting se Drakensberg Inklusiewe Groei-forum se debat oor ekonomiese groei en werkskepping. Godongwana beklemtoon dat die regering skuld moet beperk om sy vermoë te beskerm om onderwys, gesondheidsorg en ander noodsaaklike dienste te finansier:
# Eskom se groep finansiële hoof, Calib Cassim, het ná 24 jaar by die kragvoorsiener afgetree. Eskom sê Cassim het ‘n belangrike rol gespeel om sy geldelike posisie te versterk en die organisasie se langtermynvolhoubaarheid te bevorder. Volgens Eskom het Cassim oor meer as twee dekades ‘n belangrike rol gespeel in sy omkeerstrategie. Cassim bly in ‘n waarnemende hoedanigheid aan as groep finansiële hoof totdat sy opvolger aangestel is.
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne loof die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se goedkeuring om 500 Patriot-missiele te lewer, maar sê dit kan jare duur voor sy land dit ontvang. Kiëf sal vir die aankope betaal met fondse van Kanada, Duitsland en Noorweë, asook ‘n lening van die Europese Unie. Zelensky sê dit moet gou afgelewer word om die land teen Russiese lugaanvalle te beskerm. Hy sê Amerika en Europese bondgenote het genoeg voorraad om dit dadelik aan Oekraïne te verskaf.
# En krieket: Die Proteas het die derde en laaste Toets teen Australië in Kaapstad met 176 lopies gewen om die reeks met 2-1 te beklink. Die toeriste is ‘n teiken van 288 gestel maar uitgeboul vir 111. Die oorwinning beteken die Proteas is vir die eerste keer sedert Januarie 2016 weer nommer een op die wêreldranglys vir Toetskrieket. Draaibouler, Simon Harmer, het die beste boulsyfers van sy loopbaan aangeteken met ses paaltjies vir 16 lopies, en Kagiso Rabada het drie paaltjies laat kantel. Die Proteas is ook nou tweede op die IKR se Wêreldtoetskampioenskaps-puntelys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….