Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die herberekening van die basis van die Suid-Afrikaanse ekonomie het die omvang met sowat 5,3-persent tot 8,044-duisend-miljard-rand verhoog. Die koerant skryf die finansiële sektor bly die grootste bydraer, terwyl die vervaardigingsektor se aandeel van 12,4-persent tot 11,9-persent gedaal het.
# Mail & Guardian:
Het vandag die foto’s van al die belangrikste rolspelers in die komende plaaslikeregeringsverkiesing op die voorblad met die bewoording: “WHO DESERVES YOUR VOTE?”
# Die Papier:
Berig politieke ontleders is bekommerd dat baie kiesers van die stembus gaan wegbly op 4 November. ‘n Gebrek aan dienslewering en ontnugterde ANC-ondersteuners kan lei tot die wegbly-aksies.
Dan skryf die koerant oor Pretoria se diensleweringsprobleem. Dele van die stad sit nou reeds vir ‘n geruime tyd sonder krag en water asook selfoonseine. Daar is ook onduidelikheid oor hoe die herstelproses werk en wanneer dit afgehandel sal wees. In sekere gebiede word die veiligheid van die kraanwater ook bevraagteken.
En laastens skenk die koerant ook aandag aan die verkiesing in sy redaksionele kommentaar.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die veteraan-akteur van Star Trek en X-men, Patrick Stewart, is op 86 oorlede. Hy is by sy huis in Los Angeles ná ‘n kort stryd met Alzheimer se siekte dood.
En tweedens skryf die webblad die Proteas se draaibouler, Simon Harmer, se vertoning sal in die laaste beurt teen Australië deurslaggewend wees.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ‘n derde beskuldigde is betrek by die saak van ‘n 37-jarige vrou, Ntombifuthi Mavis Rumo, wat na bewering haar eie ontvoering gereël en 40-duisend-rand van haar familie geëis het. Die 43-jarige Nomasonto Mokwane het saam met Rumo en Bonginkosi Mndebele in die KwaThema-landdroshof verskyn, waar hulle aanklagte in die gesig staar wat verband hou met die beweerde vals ontvoering.
# Sowetan:
Berig die hof het toestemming verleen aan die Nasionale Vervolgingsgesag om beslag te lê op eiendom ter waarde van 99-miljoen-rand van die omstrede taxibaas, Joe “Ferrari” Sibanyoni. Die saak staan in verband met afpersing en geldwassery.
# En The Citizen:
Skryf daar heers ‘n volskaalse zama zama-oorlog in Germiston waar inwoners in sommige gevalle tot vyf ure in hul huise vasgekeer is terwyl die konflik voortduur. Die strydende groepe gebruik militêre wapens om op mekaar te skiet.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n 43-jarige adjudant-offisier en polisieduiker van George, Dewald Vorster, is tydens ‘n polisie-opleidingsoefening naby Robbeneiland dood. Die polisie het bevestig ‘n geregtelike ondersoek is geopen.
En tweedens skryf die koerant die BackaBuddy-veldtog vir die pa van Pinetown wat sy gesin tydens ‘n motorkaping beskerm het, Sidney Hill, het reeds meer as 500-duisend-rand ingesamel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig terwyl ‘n rehabilitasietender van miljoene rand nie van die grond af kom nie, het inwoners ingespring om self die meer as 400 slaggate op die kuspad in Gqeberha te herstel.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Durdan is Suid-Afrika se keuse vir die 2036 of 2040 Olimpiese Spele.
En tweedens word berig die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het ‘n memorandum aan die kabinet voorgelê waarin hy goedkeuring vra vir die aanstelling van die KwaZulu-Natal-polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, as nasionale hoof van die Valke.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n groep privaat verskaffers van gesondheidsdienste in Namibië sê die verhoging van die standaardtarief vir gesondheidsorg is nie ‘n kwessie nie. Hulle sê dis onduidelik of die tarief in die eerste plek die werklike koste van gesondheidsorg weerspieël.
En tweedens skryf die koerant die Namibië Lughawensmaatskappy sit ná tien jaar steeds met brandbestrydingsuniforms ter waarde van 692-duisend-300-rand wat as nie geskik vir die doel geag word nie.