Nuus 06:00
BULLETIN 30 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die presidensiële Landbou-gesant sê die uitsluiting uit AGOA sal nie rampspoedig wees nie
# Die VF Plus vra weer vir sterker optrede teen plaasaanvallers
# En CNN plaas die Demokrate voor in die Senaatsverkiesings in Michigan en Texas
# Die presidensiële Landbou-gesant, Wandile Sihlobo, sê indien Suid-Afrika toegang tot die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika sou verloor, dit uitdagings vir verskeie landboubedrywe sou skep, maar dit sal nie katastrofies wees nie. Die land was die grootste begunstigde van AGOA, waarkragtens deelnemende lande belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark in ’n verskeidenheid kategorieë verkry. Sihlobo sê die verlies van AGOA moet in konteks gesien word met ander tariewe wat op Suid-Afrikaanse uitvoere van toepassing is:
#Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad en die SABC sal sy verkiesingsvoorspellingsmodel tydens die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November gebruik. Die model sal moontlike verkiesingsuitkomste voorspel namate stemuitslae bekend gemaak word. Dit maak gebruik van vorige stempatrone en die jongste uitslae om die voorspellings te verfyn. Die WNNR sê die model word reeds sedert 1999 gebruik. Hy beklemtoon die syfers is voorspellings, en nie amptelike uitslae nie. Die Verkiesingskommissie bly verantwoordelik vir die aankondiging van die finale verkiesingsuitslae.
# Die Vryheidsfront Plus doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die erns van plaasmoorde te erken en dringende stappe te doen om verdere aanvalle te voorkom. Die beroep volg op ‘n wrede aanval op die Noordwes-boer Donovan Marx, wat in die hospitaal vir sy lewe veg nadat hy volgens berigte gemartel en in die rug geskiet is. Die partyleier, Corné Mulder, sê plaasaanvalle word dikwels deur uiterste geweld gekenmerk en behoort deur wetstoepassingsinstansies as ‘n prioriteit behandel te word:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vuurwapenopleiers het die skietvoorvalle in die Wes-Kaap wat met taxi’s verband hou veroordeel. Dit sluit in voorvalle in Somerset-Wes, Khayelitsha, Epping, Delft, Bonteheuwel en Maitland. Mike Mbedzi van die vereniging sê die veiligheid van pendelaars moet ‘n prioriteit wees en geskille oor taxiroetes mag nooit tot geweld of lewensverlies lei nie. Mbedzi doen ‘n beroep op die polisie om onwettige vuurwapens te verwyder:
# Die Demokrate is in ‘n gunstige posisie in sleutelverkiesings vir die Senaat in Texas en Michigan, in die middeltermynverkiesing aanstaande Dinsdag, terwyl die stryd in Kansas en Maine meer gelykop is. ‘n Nuwe CNN-peiling toon die Demokraat Abdul El-Sayed in Michigan geniet die steun van 49-persent van waarskynlike kiesers, vergeleke met 42-persent vir die Republikein Mike Rogers. In Texas het die Demokraat James Talarico ‘n voorsprong van 49-persent teenoor die Republikein Ken Paxton, op 43-persent onder waarskynlike kiesers. Die peiling dui op geen klinkklare wenner in die Senaatstryd in óf Maine óf Kansas nie.
# Krieket: Suid-Afrika het die derde dag van die derde en beslissende toets in Kaapstad op 140 vir vier in hul tweede beurt afgesluit, en is daarmee 40 lopies voor Australië. Die besoekers is ná middagete vir 429 lopies uitgeknikker, met Josh Inglis wat 102 lopies van 135 balle aangeteken het. Die Proteas, wat in die eerste beurt met 100 lopies agter was, het vroeg die paaltjies van Aiden Markram en David Bedingham verloor. Marques Ackerman het 62 lopies aangeteken voordat hy deur Mitchell Starc uitgeboul is, terwyl kaptein Temba Bavuma in die voorlaaste boulbeurt van die dag op 35 lopies uit is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-857-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-25-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 115-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….