Nuus 13:00
BULLETIN 29 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra eenheid voor die verkiesing
# Die aangemelde maagdermsiekte-gevalle in Bronkhorstspruit neem af
# En krieket: Jansen vier sy 100ste toetspaaltjie en is nou die wêreld se beste bouler en veelsydige speler
# President Cyril Ramaphosa versoek eenheid voor Suid-Afrikaners volgende week gaan stem. Hy sê verdeelheid moenie burgers se demokratiese regte ondermyn nie. Hy het gepraat tydens die viering van die 170ste bestaansjaar van die Durbanse Kamer van Koophandel en Nywerheid. Drie-en veertig vermeende politieke sluipmoorde is tussen Januarie en verlede maand aangeteken. Ramaphosa sê plaaslike regering is waar beloftes rondom demokrasie ‘n werklikheid moet word en inwoners daagliks die gehalte van dienslewering moet ervaar:
# Die R300 in Kaapstad is tydelik gesluit ná ‘n vermeende taxi-verwante skietvoorval. Noodmediese dienste en wetstoepassingsbeamptes is op die toneel en verkeersdienste werk om die pad te heropen. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê wetstoepassingsdienste bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag, met verhoogde patrollies naby openbare vervoer-roetes:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê die daaglikse getal maagdermsiekte-gevalle in Bronkhorstspruit neem af en verlig kommer oor besmette water. Tot op hede is 833 mense deur die uitbreking geraak waarvan sowat 40-persent kinders jonger as vier was. Hulle het water van die plaaslike watersuiweringsaanleg gedrink wat weke lank nie met chloor behandel is nie omdat die voorraad opgeraak het. Moya sê terwyl die aanleg herstel word, moet die betrokke gemeenskappe steeds die veilige water gebruik wat die metro voorsien.
Nuus uit die buiteland:
# Die senator en presidentskandidaat Flávio Bolsonaro het homself verklaar tot Brasilië se regmatige leier nadat hy na Amerika gevlug het. Hy het Sondag se beslissende verkiesingsronde verloor teen Luiz Inácio Lula da Silva, wat vir ‘n vierde termyn herkies is. Die hoogste hof ondersoek Bolsonaro vir beweerde korrupsie en geldwassery. Hy het vroeër die week Amerikaanse visums vir homself en sy gesin bekom. Bolsonaro sê hy het ‘n land waar die regsorde nie meer behoorlik funksioneer nie verlaat om die leier te word wat sy landgenote verdien.
# Krieket: Die Protea-snelbouler Marco Jansen het sy 100ste toetspaaltjie gevier deur die wêreld se beste bouler en veelsydige speler in die formaat te word. Hy het dit vermag in Australië se eerste beurt tydens die derde toets in Kaapstad. Die 26-jarige Jansen het in Desember 2021 sy buiging vir Suid-Afrika gemaak en speel tans in sy 23ste toets. Hy het reeds 770 lopies aangeteken. Die Proteas se boul-afrigter, Piet Botha, sê Jansen is ‘n baie harde werker wat nie bang is om by ander te leer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-120-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-26-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….