Nuus 06:00
BULLETIN 29 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê die Nasionale Uitslagsentrum is geskik vir sy doel met die oog op die verkiesing
# Munisipaliteite in die Wes-Kaap word aangeraai om teen November waterbeperkings in te stel
# En krieket: Australië neem die voortou in die beslissende derde toets teen Suid-Afrika
# Die Verkiesingskommissie sê sy Nasionale Uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, is gereed en geskik vir sy doel. Die sentrum sal dien as die middelpunt waar verkiesingsuitslae ontvang, geverifieer en amptelik aangekondig sal word. Altesaam 29,2-miljoen Suid-Afrikaners het as kiesers geregistreer, terwyl 2,6-miljoen geregistreer is vir spesiale stemme voor Woensdag se verkiesing. Die uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, sê die uitslagsentrum is nie bloot fisiese infrastruktuur nie, maar weerspieël die grondwetlike karakter van ‘n verkiesingsdemokrasie:
# Die Departement van Landbou sê hoewel daar ‘n uitbreking van Newcastle-siekte in die staat Santa Catarina in Brasilië was, sal pluimveevleis, broei-eiers en dagoud-kuikens steeds ingevoer kan word, mits dit aan streng dieregesondheidsvereistes voldoen. Dit sluit ‘n versekering in dat plase en fasiliteite vir die vereiste tydperk vry van die siekte was. Die regering het die Brasiliaanse owerhede versoek om toe te sien dat alle pluimveeprodukte wat na Suid-Afrika uitgevoer word, aan hierdie reëls voldoen.
# Statistiek Suid-Afrika sê die aantal mense wat geskille of probleme ervaar, het in 2025/2026 tot byna 28-persent toegeneem – ‘n styging van 12-persent sedert 2018/2019. Krag- en wateronderbrekings is die algemeenste klagtes, gevolg deur geskille met bure. Boitumelo Mooketsi van Statistiek Suid-Afrika sê die verslag toon ook dat bewustheid van die Grondwet tot 76,6-persent gedaal het, terwyl rassediskriminasie steeds die vorm van diskriminasie is wat die meeste ervaar word:
# Die Wes-Kaapse regering doen ‘n beroep op munisipaliteite om waterbeperkings voor die somer in te stel aangesien damvlakke daal en warmer, droër weer verwag word. Munisipaliteite is aangeraai om vlak een-beperkings teen 15 November in te stel en vlak twee-beperkings teen 1 Desember in gebiede met ‘n groter risiko. Inwoners en besighede word versoek om water te bespaar en lekplekke te herstel. Die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê vroeë waterbesparingsmaatreëls is daarop gemik om ‘n groter waterkrisis te verhoed.
# Die Spaanse eerste minister, Pedro Sánchez, het drie dae van rou afgekondig nadat minstens 68 mense gister in ‘n treinongeluk in die provinsie Toledo, suid van die hoofstad Madrid, dood is. ‘n Sneltrein het met ‘n stilstaande trein gebots, wat daartoe gelei het dat ongeveer 100 mense beseer is. Die minister van vervoer, Óscar Puente, sê ‘n rekenaarfout het veroorsaak dat ses bewegende treine, insluitend die twee wat later gebots het, tot stilstand gekom het. Sánchez sê die owerhede ondersoek die presiese oorsaak van die noodlottige ongeluk en onderneem om enige moontlike tekortkominge of nalatigheid streng aan te spreek.
# Krieket: Australië het teen die einde van die tweede dag van die derde en laaste toets in Kaapstad 330 vir vier behaal, en sodoende ‘n voorsprong van een lopie geneem. Die besoekers het gister begin nadat hulle die Proteas Dinsdag vir 329 uitgeknikker het; Matt Renshaw en Travis Head het 58 lopies vir die eerste paaltjie bygedra. Simon Harmer het daarna die paaltjies van Head en Marnus Labuschagne in sy eerste boulbeurt geneem, terwyl Marco Jansen ook twee paaltjies ingeoes het. Australië sal vandag poog om hul lopietotaal verder uit te bou, met Josh Inglis op 85 en Alex Carey 51 nie uit nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-221-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-55-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 115-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….