Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Reserwebank se groeisiklus-aanwyser is besig om te herstel ná ‘n insinking van twee maande. Dit kan volgens die koerant toegeskryf word aan ‘n groei in die reële geldvoorraad en die goedkeuring van infrastruktuurbouplanne.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramapkosa het opdrag gegee dat 510 soldate teen ‘n koste van 34-miljoen-rand in KwaZulu-Natal ontplooi word om die polisie te ondersteun in die bekamping van geweld teen buitelanders.
En tweedens skryf die webblad die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg, het na bewering die realiteitster, Peet Viljoen, in die tronk met die vuis bygedam. Die stryery het glo gegaan oor wie die liefste vir hul vrouens is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die March-and-March-beweging glo dat Suid-Afrika se ekonomiese en immigrasie-uitdagings praktiese optrede, wettige afdwinging en verantwoordbare leierskap vereis. In ‘n 28-bladsy memorandum wat aan die regering oorhandig is, eis die beweging onder meer billike werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners en regulering van die e-taxi-bedryf.
# Sowetan:
Berig die bestuur van die FNB-stadion in Soweto, waar Pirates an Chiefs die naweek kragte meet, het toeskouers gewaarsku dat indien hulle nie kaartjies het nie, hulle gearresteer sal word.
# En The Citizen:
Skryf kenners sê al hoe meer kiesers in Suid-Afrika ondersteun partye wat groepsverband ondersteun en dit ondermyn die Suid-Afrikaanse grondwetlike visie van nie-rassigheid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor moontlike waterbeperkings in die Wes-Kaap. Die koerant skryf die onlangse reën het nie in die nodigste plekke geval nie en die beperkings sal ‘n negatiewe uitwerking op landbou in die provinsie hê.
En tweedens skryf die koerant die ma van die sesjarige Berto-Lee Adams is slegs ‘n week na hom oorlede. Gaynor Adams was verlede week saam met haar seun in ‘n ernstige motorongeluk op die Helshoogtepas buite Stellenbosch.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die onlangse geweld by die Uitenhage Provinsiale Hospitaal in Kariega het kommer laat ontstaan oor die veiligheid van gesondheidswerkers en die behoefte aan versterkte veiligheidsmaatreëls. Die voorval het gevolg na ‘n pasiënt en sy familielede probeer het om die trauma-eenheid binne te gaan – ‘n area waar slegs een begeleier per pasiënt toegelaat word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die KwaZulu-Natal Hooggeregshof in Durban het die verkoop gemagtig van vyf luukse eiendomme in Sandown, Johannesburg wat aan die sakevrou en realiteits-TV-persoonlikheid Shauwn “MaMkhize” Mkhize behoort. Die eiendomme gaan na verwagting 35-miljoen-rand haal en aangewend word om Mkhize se agterstallige belasting te dek.
En tweedens word ook berig oor die ontplooiing van soldate in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Otjiwarongo se verkeershoof sê veeboere staar boetes van tot een-duisend-rand in die gesig as hul beeste in die dorp rondloop, aangesien bewegingsbeperkings weens bek-en-klouseer die owerhede verhinder om die diere te verskuif.
En tweedens skryf die koerant werknemers van die Stad Windhoek wat binnekort aftree, sê hulle het briewe ontvang waarin hulle ingelig word dat hulle ná hul aftrede vir hul volle mediesefondspremie verantwoordelik sal wees.