Nuus 06:00
BULLETIN 28 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering tree op teen diegene wat geweld teen buitelandse burgers aanhits
# ‘n Skool in Somerset-Wes skors ‘n 13-jarige ná ‘n mesaanval
# En Donald Trump sê hy sal die uitslae van die middeltermynverkiesing aanvaar
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering tree op teen diegene wat wettige kommer oor onreëlmatige migrasie uitbuit om misdadige, haatdraende agendas te bevorder. Hy het gepraat by die Afrika en die Afrika-diasporakonferensie in Johannesburg, wat gister onder die tema “Die Terugkeer na Afrika” gehou is. Lamola sê daar dien tot dusver meer as 100 sake voor die howe, en meer as 40 ondersoeke wat verband hou met intimidasie, plundering en geweld teen migrante is aan die gang. Hy sê aanvalle op migrante moet streng veroordeel word:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering doen ‘n beroep op geregistreerde kiesers om tydens die komende plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November etiese, bekwame en verantwoordbare leiers te kies. Die woordvoerder van SALGA, Motalatale Modiba, sê kiesers het ‘n belangrike rol om te speel in die verbetering van dienslewering en om munisipaliteite tot verantwoording te roep. Modiba het kiesers ook aangemoedig om waarskuwings oor die weer dop te hou en op verkiesingsdag vroeg by stembusse aan te kom:
# Die Padverkeerbestuurskorporasie doen ‘n beroep op motoriste om vir die feestyd voor te berei deur te verseker dat hul voertuie padwaardig is en alle lisensies geldig is. Meer as 2,2-miljoen voertuiglisensieskyfies verval in November en Desember, waarvan Gauteng die grootste deel verteenwoordig met meer as 851-duisend lisensies. Simon Zwane van die korporasie raai bestuurders aan om hul voertuie na te gaan, moegheid en alkohol te vermy, spoedbeperkings te eerbiedig en te verseker dat almal veiligheidsgordels dra:
# Die Hoërskool Helderberg in Somerset-Wes het ’n 13-jarige leerder geskors wat na bewering twee medeleerders verlede week met ’n mes gesteek het. Die tiener het gister in die landdroshof in Somerset-Wes verskyn, en die saak is tot 14 Desember uitgestel vir verdere ondersoek. Die twee slagoffers is na die voorval vir behandeling na die hospitaal geneem. Die skool sê berading en ondersteuning is vir leerders gereël terwyl hulle vir hul eindeksamen voorberei.
# President Donald Trump sê hy sal ten spyte van sy herhaalde aanvalle op die integriteit van die stemproses die uitslag van die middeltermynverkiesing aanvaar as dit “eerlik” is. Sy administrasie het probeer om druk op state te plaas om hul kieserslyste te kontroleer vir persone wat nie kwalifiseer nie. Verlede week het die Departement van Justisie voorkomend ‘n regsgeding aanhangig gemaak wat die sertifisering van Alaska se Senaatsverkiesing betwis as die Republikeinse ampsdraer verloor. Trump sê hy sal óf ooreenkomste aangaan óf wetgewing veto as die Demokrate beheer oor die Huis en Senaat neem.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc het ses paaltjies geneem toe Suid-Afrika vir 329 lopies uitgeknikker is in hul eerste beurt, teen die einde van die eerste dag van die reeksbeslissende derde toets in Kaapstad. Die Proteas het eerste gekolf, met Marques Ackerman en Aiden Markram wat ‘n openingsvennootskap van 158 lopies om die eerste paaltjie opgebou het. Ackerman het ‘n loopbaanbeste 95 lopies aangeteken, en Markram het 78 bygedra. David Bedingham en Marco Jansen het ook bygedra deur albei ‘n vyftigtal te behaal. Australië begin vandag met hul eerste beurt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-762-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-63-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 114-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….