Nuus 13:00
BULLETIN 26 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leier van die NCC beskuldig die regering dat hy bruin gemeenskappe uitsluit
# Krieket: Pakistan behaal 89 lopies om die laaste paaltjie om Engeland te klop
# En Ramaphosa wens Lula geluk met sy vierde termyn as president van Brasilië
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, sê bruin gemeenskappe word steeds benadeel en ekonomies uitgesluit. Hy het die ANC en die DA in die Wes-Kaap gekritiseer tydens ‘n onderhoud met die SABC voor volgende Woensdag se plaaslike regeringsverkiesing. Adams sê indiensnemingsbeleide beperk geleenthede vir bruin jeugdiges en gemeenskappe worstel teen bendegeweld, behuisingstekorte en gebrekkige dienslewering. Hy sê die party plaas die klem op infrastruktuur-ontwikkeling, dwelmrehabilitasie en gelykheid in die werkplek:
Die ANC waarsku intussen teen ‘n bedrieglike boodskap wat beweer dat hy 300-rand weggee as deel van sy verkiesingsveldtog. Die party het geen sodanige weggee-aksie gemagtig of van stapel gestuur nie, en vra die publiek om nie op skakels te klik, daarop te reageer of dit met ander te deel nie. Hy waarsku die publiek ook om nie hul identiteitsnommers, bankbesonderhede, kaartinligting, wagwoorde of eenmalige PIN-kodes te deel nie. Die ANC veroordeel die misbruik van sy naam om die publiek deur middel van valse beloftes uit te buit.
# Die uitvoerende hoof van die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA, Themba Matlou, sê die agentskap versterk sy stelsels, skakel skuiwergate uit, ondersoek bewerings van wangedrag en verseker skuldiges word aanspreeklik gehou. SASSA het sedert April verlede jaar 134 klagtes van beweerde bedrog en wangedrag teen sy amptenare ontvang, waarvan 106 afgehandel en 28 hangende is. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, sê 65 amptenare is na tugprosesse afgedank:
# Krieket: Pakistan het die vierde grootste tiendepaaltjie-vennootskap in die geskiedenis van mans-eendagkrieket behaal om Engeland in Lahore met een paaltjie te klop. Ben Duckett het ‘n indrukwekkende 105 aangeteken en Engeland is vir 241 uitgeknikker. Shadab Khan het daarna ‘n onoorwonne 113 behaal en saam met Haris Rauf ‘n onoorwonne tiendepaaltjie-vennootskap van 89 lopies opgebou. Pakistan het gewen met 17 balle oor. Engeland loop nou gevaar om nie die eindstryd te haal van die driehoekige reeks waaraan Sri Lanka ook deelneem nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-352-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-17-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 114-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het die Brasiliaanse president, Luiz Inácio Lula da Silva, gelukgewens met sy geskiedkundige herverkiesing. Lula het ‘n ongekende vierde termyn gewen nadat hy die regse senator Flávio Bolsonaro in ‘n naelbyt-tweederonde-verkiesing geklop het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Suid-Afrika en Brasilië handhaaf noue bilaterale en strategiese bande geskoei op Suid-Suid-samewerking en hul gedeelde leiersrol in BRICS, die IBSA-dialoogforum, die G77 Plus China, en die G20:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….