Nuus 17:00
BULLETIN 9 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA meen sy manifes is ‘n geloofwaardige en duidelike pad vorentoe
# Nicaragua doen aansoek om by Suid-Afrika aan te sluit in sy hofsaak teen Israel
# En, rugby: ‘n Gewese Wallabie-speler onskuldig bevind aan seksuele aanklagte
# Die DA sê sy manifes is nie ‘n stel leë beloftes nie, maar ‘n datagedrewe, goed nagevorste dokument om Suid-Afrika se dringende kwessies aan te pak. Dit stel pragmatiese oplossings vir verkwistende besteding, die kragkrisis en ekonomiese groei voorop, te midde van onvervulde beloftes, toenemende armoede en korrupsie onder president Cyril Ramaphosa. Die DA se federale voorsitter, Ivan Meyer, sê duisende van hul ondersteuners gaan volgende Saterdag van Kerkplein na die Uniegebou in Pretoria stap as ‘n simbool van hul gereedheid vir die komende verkiesing:
# Die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap, Mduduzi Vilakazi, het FlySafair se bekendstelling van ‘n regstreekse roete tussen die Kaapstad Internasionale Lughawe en Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe net buite die Krugerwildtuin verwelkom. Die eerste vlug op die roete word vir 2 April beplan en die goedkoopste kaartjies kos een-duisend-851-rand. Vilakazi sê die nuwe roete sal die provinsie se ekonomie ʼn hupstoot gee en reise tussen die twee gewilde toerismebestemmings meer toeganklik maak:
# Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het die globale skeepsvaart-onderneming Hapag-Lloyd verwelkom as die nuwe sitrusuitvoerdiens vanaf die hawens van Durban en Gqeberha van einde Mei tot September. Die diens is ‘n verligting te midde van onlangse verskepingsuitdagings, insluitend prysstygings as gevolg van aanvalle op vaartuie in die Rooi See en ontwrigtings by die Panama-kanaal. Die vereniging beklemtoon die belangrikheid van betroubare verskepingstoegang vir die sitrusbedryf om mededingendheid en buigsaamheid in die mark te handhaaf.
# Nicaragua wil hê Israel moet aanspreeklik gehou word vir sy optrede in Gaza, en formeel gevra om ingesluit te word by Suid-Afrika se volksmoord-saak teen die land voor die Internasionale Geregshof. Dié Sentraal-Amerikaanse land is die eerste ooit wat aansoek doen om by so ‘n saak betrokke te raak. Hy voer aan Israel se optrede is ‘n skending van die Volksmoordkonvensie. Ander lande, insluitend Duitsland, het aangedui hulle gaan aan Israel se kant ingryp. Die hof het Suid-Afirka en Israel gevra vir skriftelike voorleggings oor Nicaragua se aansoek.
# Rugby: Die gewese Wallabie-speler Kurtley Beale sal na verwagting na die spel terugkeer nadat hy in ‘n hof in Sydney onskuldig bevind is op seksuele aanklagte. Rugby Australië het Beale geskors nadat hy in Januarie verlede jaar aangekla is. ‘n Vrou het die veteraan van 95 toetse daarvan beskuldig dat hy haar in ‘n kroeg se badkamer verkrag het. SkySports berig ‘n jurie het minder as twee uur beraadslaag voordat hulle hul uitspraak bekendgemaak het. Die 35-jarige Beale sê die saak het ‘n reuse-uitwerking op hom en sy gesin gehad.
# En laastens, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-442-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….