Nuus 16:00
BULLETIN 31 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP benoem Mkhuleko Hlengwa as sy burgemeesterskandidaat in eThekwini
# Brandstofpryse styg Woensdag weer skerp
# En krieket: Kagiso Rabada kan die toetsreeks teen Australië misloop weens ‘n besering
# Die IVP het Mkhuleko Hlengwa aangewys as sy burgemeesterskandidaat in eThekwini in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in November. Die aankondiging is vanoggend in Durban gedoen. Hlengwa dien tans as adjunkminister van Vervoer en is ook die party se nasionale woordvoerder. Hy is sedert 2012 ‘n parlementslid. Die IFP-leier, Velenkosini Hlabisa, sê die party is vol vertroue Hlengwa kan die leiding neem in eThekwini, met verwysing na sy 15 jaar ervaring in regering en leierskap.
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n geskorste advokaat, Malesela Teffo, gelas om te bewys hy is weer wettig toegelaat voor hy enige aansoek voor die hof kan indien. Teffo wou grondwetlike kwessies opper in die saak teen die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en vier medebeskuldigdes, wat teregstaan op 25 aanklagte, waaronder poging tot moord en geldwassery. Regter Cassim Moosa sê die hof kan nie tans Teffo se voorleggings aanhoor nie:
# Die minister vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê die nuutgestigte nasionale raad oor geslagsgeweld en vrouemoord sal die stryd teen die onding versterk. Sy het ‘n nuuskonferensie gehou ná die raad se eerste vergadering. Chikunga sê die raad sal die regering, die burgerlike samelewing, sake en ander sektore se pogings belyn, terwyl die instel van die nasionale strategiese plan gemonitor en oorlewendes ondersteun word:
# Suid-Afrikaanse motoriste staal hulle vir nog ‘n skerp styging in brandstofpryse Woensdag. Petrolpryse gaan met ongeveer een-rand-34-sent per-liter styg, terwyl dieselpryse tot tussen twee-rand-93 en drie-rand-14 sent per-liter kan styg. Die stygings word aangedryf deur hoër internasionale oliepryse en ‘n swakker rand. Die jongste verhogings plaas verdere druk op huishoudelike begrotings en vervoerkoste.
# Krieket: Die Protea-snelbouler, Kagiso Rabada, is in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees vir die tuisreeks van drie toetse teen Australië in Oktober. Hy het sy regter-agterkniesening beseer tydens oefening vir sy plaaslike span, die Lions. Rabada is reeds onttrek van die eendagreeks teen Australië, wat volgende maand begin. Krieket Suid-Afrika sê sy beskikbaarheid vir die toetsreeks sal afhang van sy vordering en rehabilitasie en ‘n finale besluit oor sy insluiting sal nader aan die tyd geneem word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-124-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-445-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….