Nuus 16:00
BULLETIN 9 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê Suid-Afrika ervaar sy swakste ekonomiese prestasie
# FlySafair-roete tussen Kaapstad en die Krugerwildtuin sal die ekonomie bevoordeel
# En, Rugby: ‘n Amerikaanse sportonderneming wil in die Springbokke belê
# ‘n Ekonoom van die Stellenbosse Sakeskool, Nthabiseng Moleko, waarsku oor Suid-Afrika se haglike ekonomiese toestand. Moleko het tydens ‘n onderhoud met Newzroom Afrika verwys na die regering se gebrek aan optrede rondom sy verpligtinge om werkloosheid en ekonomiese uitdagings aan te pak. Moleko doen ‘n beroep op die regering om die krisis te erken en beslissende stappe te doen om die situasie reg te stel, met die klem op ‘n behoefte om aan te beweeg van ontkenning:
# Die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap, Mduduzi Vilakazi, het FlySafair se bekendstelling van ‘n regstreekse roete tussen die Kaapstad Internasionale Lughawe en die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe net buite die Krugerwildtuin verwelkom. Die eerste vlug op die roete word vir 2 April beplan en die goedkoopste kaartjies kos een-duisend-851-rand. Vilakazi sê die nuwe roete sal die provinsie se ekonomie ʼn hupstoot gee en reise tussen die twee gewilde toerismebestemmings meer toeganklik maak:
# AfriForum Jeug het begin met ‘n regsondersoek na die tydelike skorsing van ‘n senior student aan die Universiteit van Noordwes. Shaun Christie het die universiteit se oriënteringsinhoud, veral besprekings oor LGBTQIA-plus, openlik gekritiseer. Hy beweer besprekings oor geslagskwessies word toegelaat, maar nie oor Christenskap nie. Die jeugorganisasie bestempel dit as ‘n skending van vryheid van uitdrukking en studente se reg om uitsprake te maak wat van mekaar verskil. Christie, wat skynbaar weens oneerbiedige optrede geskors is, kan nou moontlik die kampus en klasse belet word:
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie en die Amerikaanse sportgroep, Ackerley het aangekondig hulle onderhandel oor ‘n vennootskapsooreenkoms om op alle vlakke in Suid-Afrikaanse rugby te belê. Die gesamentlike onderneming sal in beheer wees van alle huidige en toekomstige bates van die Springbokke en SARU wat inkomste inbring. Ackerley het ‘n aantal beroep- sportkonsessies besit, insluitend die Seattle SuperSonics, die Seattle Seawolves, die Coachella Firebirds en mees onlangs, die bekendstelling van die NHL-konsessie, Seattle Kraken. Die onderneming en ‘n vennoot het ook meerderheidsbeheer oor die Leeds United-sokkerklub.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-289-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak twee-waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms met sterk skadelike wind, hael, oormatige weerlig en swaar reën. Provinsies wat geraak word sluit in Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Risiko’s sluit in oorstromings, strukturele skade, bome wat omval en paaie versper, en moontlike ontwrigting as gevolg van kragonderbrekings. Uiters hoë brandgevaartoestande word in sommige dele van die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat en die Oos-Kaap voorspel. Inwoners word versoek om versigtig te wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….