Nuus 07:00
BULLETIN 24 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi stel ‘n nasionale watermeesterplan voor om die munisipale waterkrisis op te los
# Mynbou en opleidingsvennote span saam om werksgeleenthede vir die jeug te skep
# En, Iran het omvattende planne om ondersese kabels in die Golf te teiken indien die oorlog sou hervat
# Rise Mzansi het voorstelle gemaak om die landwye waterkrisis aan te spreek, wat deur verouderde infrastruktuur, swak instandhouding, waterverliese en munisipale wanbestuur veroorsaak word. Die party stel ‘n nasionale watermeesterplan voor, asook vinniger herstelwerk aan gebarste pype, moderne tegnologie vir die opsporing van lekkasies, en opgraderings aan verouderde water- en rioolstelsels, met die klem op gemeenskappe wat in die verlede afgeskeep is. Mabine Seabe van Rise Mzansi sê dringende optrede is nodig om betroubare waterdienste te herstel en aanspreeklikheid in munisipaliteite te verbeter:
Die Stad Tshwane het intussen die bestuurder van die Bronkhorstspruit-watersuiweringsaanleg geskors en ’n onafhanklike ondersoek gelas ná ’n onderbreking in die chloortoevoer wat watersuiwering geraak het. Die stad ondersoek ook vertragings in die waarskuwing aan inwoners oor risiko’s vir waterveiligheid. Tydens ’n inligtingsessie met die gesamentlike parlementêre portefeuljekomitees vir Water en Sanitasie en vir Gesondheid, het burgemeester Nasiphi Moya gesê die ondersoek sal vasstel wat verkeerd geloop het en wie verantwoordelik gehou moet word:
# Gold Fields se South Deep-myn het met ander mynmaatskappye en opvoedkundige instellings saamgespan om werksgeleenthede aan die Wes-Rand in Gauteng te verbeter. Die Siyakha Sonke-inisiatief beoog om jongmense en gemeenskappe te help om vaardighede te verwerf wat ooreenstem met die behoeftes van werkgewers. Die vennootskap sluit Sibanye-Stillwater, AngloGold Ashanti en Westcol TVET-kollege in. Benford Mokoatle van Gold Fields sê die program sal fokus op praktiese opleiding en die voorbereiding van mense vir poste in die mynbou-, hernubare energie- en vervaardigingsektore, namate die bedrywe verander.
# Teheran het omvattende planne opgestel om ondersese kommunikasiekabels in die Golf te teiken, indien Amerika en Israel Iran weer aanval. Twee senior Iranse veiligheidsamptenare het aan Reuters gesê ondersese kabels in die streek kan in enige hernieude konflik as teikens dien, indien diplomasie met Washington sou misluk. Hulle het min besonderhede verskaf en nie aangedui hoe of presies waar Teheran sulke aanvalle sou uitvoer nie, maar het Washington gewaarsku om nie “met vuur te speel nie”. Hulle sê Iran het volle toegang tot die onderwaterkabels en kan dit maklik vernietig.
En nou Sport:
# Eerstens krieket: Australië kan verwag om herinner te word aan hul vorige besoek aan Nuweland wanneer die derde en beslissende toets Dinsdag teen Suid-Afrika in Kaapstad begin. Dit is die eerste keer op hierdie veld sedert die berugte skuurpapier-skandaal. Steve Smith is steeds deel van die span waarvan hy in 2018 die kaptein was toe die bouler Cameron Bancroft op kamera betrap is toe hy die bal met skuurpapier bewerk het. Die eerste twee toetse in die huidige reeks het baie min toeskouers gelok. Die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith sê Australië kan nie vir sy verlede wegkruip nie.
# En gholf: Branden Grace is die jongste Suid-Afrikaner wat LIV Golf verlaat, en die wenner van nege DP World Toernooie is in die 2026-27-seisoen voltyds terug by dié reeks. Die 38-jarige Grace sluit nou aan by sy voormalige kaptein, Louis Oosthuizen, wat verlede Woensdag ook sy vertrek aangekondig het. Grace, wat spog met 15 professionele oorwinnings wêreldwyd, insluitend twee PGA-titels, asook die Nedbank Gholf Uitdaagtoernooi en die SA Ope, sê sy terugkeer na die DP World-reeks voel soos om huis toe te kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….