Nuus 08:00
BULLETIN 24 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die hersiene Witskrif as ‘n grondslag vir munisipale hervorming
# Paul Mashatile sê belegging in die jeug is die sleutel tot Suid-Afrika se toekoms
# En rugby, die Haaie oorweldig Cardiff, maar die Leeus sukkel teen Edinburgh in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake verwelkom die bekendstelling van die Hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering en beskryf dit as ‘n geleentheid om strukturele swakhede in munisipaliteite aan te spreek. Die beleidsraamwerk beoog om verantwoordbare en finansieel volhoubare munisipaliteite te bou wat betroubare dienste kan lewer en op gemeenskapsbehoeftes kan reageer. Die voorsitter van die komitee, Zweli Mkhize, het beklemtoon die doeltreffende implementering van die hersiene beleidsraamwerk sal duideliker aanspreeklikheid oor al drie regeringsfere vereis.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se toekoms word bepaal deur beleggings in jongmense. Mashatile het aan leerders by die Ohlange High School in Inanda, eThekwini, KwaZulu-Natal, gesê die bemagtiging van die jeug deur middel van onderwys, vaardighede en ekonomiese geleenthede is noodsaaklik om ‘n sterker land te bou. Die adjunkpresident het gevra vir groter pogings om te verseker dat jongmense sinvol aan die ekonomie deelneem en tot die land se ontwikkeling bydra:
# RISE Mzansi se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Lukhona Mnguni, sê hy is gereed vir ‘n opbouende, beginselvaste verhouding met die Nasionale Tesourie om die stad se finansiële krisis aan te pak. Mnguni het op ‘n ontbytgeleentheid van die Henley-sakeskool geoormerkte fondse bevraagteken, asook die stad se besluit om slegs 7-persent van sy elektrisiteitsinkomste aan City Power oor te dra. Hy sê die stad het groter deursigtigheid in sy finansiële bestuur, aanspreeklike leierskap en dringende ingryping nodig om sy groeiende skuldlas en ander finansiële uitdagings aan te pak:
# Teheran het omvattende planne opgestel om ondersese kommunikasiekabels in die Golf te teiken, indien Amerika en Israel Iran weer aanval. Twee senior Iranse veiligheidsamptenare het aan Reuters gesê ondersese kabels in die streek kan in enige hernieude konflik as teikens dien, indien diplomasie met Washington sou misluk. Hulle het min besonderhede verskaf en nie aangedui hoe of presies waar Teheran sulke aanvalle sou uitvoer nie, maar het Washington gewaarsku om nie “met vuur te speel nie”. Hulle sê Iran het volle toegang tot die onderwaterkabels en kan dit maklik vernietig.
# Rugby: Die Haaie het gisteraand hul posisie in die Verenigde Rugbykampioenskap versterk met ‘n bonuspunt-oorwinning oor Cardiff, terwyl die Leeus in die vierde ronde teen Edinburgh vasgeval het. Die Haaie het teruggeveg om die Walliese gashere met 36–21 te klop en het ses drieë gedruk in ‘n indrukwekkende wegwedstryd. Die besoekers het teen rustyd met 17–7 teen Cardiff voorgeloop. Die Leeus het egter in Skotland gesukkel teen ‘n onoorwonne Edinburgh-span en met 31–10 verloor. Die Haaie is na hul oorwinning nou stewig in die boonste helfte van die punteleer.
# En ten slotte, ‘n internasionale kliniese proefneming, gelei deur professor Georgina Long van die Melanoom-instituut in Australië, het bevind dat ‘n individueel-aangepaste kanker-entstof die risiko dat melanoom kan terugkeer, of pasiënte sterf, met 42-persent kan verminder. Die fase 3-proef het een-duisend-137 pasiënte ingesluit wie se gewasse chirurgies verwyder is. Navorsers van die farmaseutiese maatskappye Moderna en Merck het die studie by 157 sentrums wêreldwyd uitgevoer. Die resultate sal hierdie naweek in Madrid, Spanje, by die kongres van die Europese Vereniging vir Mediese Onkologie aangebied word. Die entstof is toegedien in kombinasie met bestaande immunoterapie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….