Nuus 13:00
BULLETIN 17 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika vra regverdige klimaatsfinansiering in aanloop tot COP31
# Suliman Carrim verduidelik aan hof sy beplande geestelike oorsese reis
# En Donald Trump laat vaar nuwe sanksies teen Rusland
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê Suid-Afrika sal hom by November se COP31-klimaatskonferensie in Antalya, Turkye, beywer vir regverdige klimaatfinansiering. Maynier sê ontwikkelende lande het groter ondersteuning nodig om by klimaatsverandering aan te pas, uitlaatgasse te verminder en kwesbare gemeenskappe te beskerm. Hy sê klimaatsoptrede moet industrialisasie, werkskepping en vermindering van armoede ondersteun. Die minister het bevestig daar is ‘n fonds wat gemik is op verlies en skade weens klimaatsverandering:
# Die sakeman Suliman Carrim het in die Pretoria-landdroshof verduidelik dat sy beplande reis ʼn godsdienstige pelgrimstog aan Saoedi-Arabië via Dubai, en daarna ʼn reis na Pakistan ingesluit het. Sy prokureur, Hendrik Potgieter, sê Carrim het ʼn retoerkaartjie gehad, terwyl die staat se ondersoekbeampte, Jimmy Kubayi, sê die bespreking was nie retoer nie en dat hy ʼn vlugrisiko is. Carrim sê sy dokter het aanbeveel dat hy die reis vir geestelike opheffing onderneem:
# Die Regterlike Inspektoraat vir Korrektiewe Dienste het in die 2025/2026-boekjaar 554 klagtes van vermeende gebruik van geweld teen gevangenes ontvang. Regter Lee Bozalek het in ʼn onderhoud met Newzroom Afrika kommer gelug oor toenemende onnatuurlike sterftes en vrae oor sterftes in aanhouding. Dit sluit gevalle in by die Pollsmoor- en Goodwood-gevangenisse. Bozalek sê oorbevolking en smokkel bly groot probleme in Suid-Afrikaanse tronke wat kommer laat ontstaan oor gevangenes se veiligheid en menseregte:
# Eskom sê Koeberg Eenheid Een is gister van lyn gehaal nadat ʼn beskermingstelsel geaktiveer is tydens ʼn toetsproses wat met beplande onderhoud aan Eenheid Twee verband hou. Ingenieur-spanne ondersoek die oorsaak en of herstellende optrede nodig is. Eskom sê daar is geen kerngevaar nie. Alle veiligheidstelsels werk normaal en die stasie bly bestendig. Die instelling sê hy het genoeg opwekkingsvermoë om aan die vraag te voldoen, ten spyte van die tydelike verlies van Eenheid Een.
# President Donald Trump van Amerika het belangrike sanksies en tariewe teen Rusland laat vaar, slegs enkele dae voor dit in werking sou tree volgens ʼn wet wat hy verlede maand bekragtig het. Dit sou druk op Moskou verhoog weens sy inval in Oekraïne. Dit het tariewe van tot 100-persent ingesluit op goedere van groot kopers van Russiese olie en gas. Trump sê die stap is in Amerika se beste belang, maar het nie meer besonderhede gegee nie. Kritici sê dit ondermyn pogings om president Vladimir Putin te dwing om die oorlog te beëindig.
# En rugby: Nieu-Seeland het Australië met 43-21 verpletter in die tweede Bledisloe-beker-toets in Sydney, en skoonskip gemaak in die reeks van twee toetse. Die All Blacks het die eerste helfte oorheers en 36 punte aangeteken teenoor Australië se sewe. Beauden Barrett het ʼn drie gedruk nadat hy ʼn aangee onderskep het, terwyl Peter Lakai en ander Nieu-Seelandse spelers die besoekers gehelp het om ver voor te loop. Australië het ná rustyd teruggeveg, maar kon nie hul teenstanders inhaal nie. Nie-Seeland spog nou met 13 agtereenvolgende toets-seges teen die Wallabies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….