Nuus 08:00
BULLETIN 18 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma is ontslaan uit ‘n hospitaal in Pietermaritzburg
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa is vol vertroue sy party sal verlore steun herwin
# En rugby: Die Leeus veg tot die bitter einde ter ere van Hyron Andrews
# Oudpresident en MK-party-leier Jacob Zuma is ontslaan uit die Netcare St Anne-hospitaal in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Zuma is op 6 Oktober opgeneem nadat hy tydens ‘n geleentheid in Msinga siek geword het. MK-woordvoerder, Sifiso Mahlangu, sê dokters het bevind hy ly aan uitputting. Hy sê Zuma het die hospitaal in goeie luim verlaat en sal privaat verder aansterk. Dit is onduidelik of die party sy finale veldtog voor die plaaslikeregeringsverkiesing gaan hou.
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa is vol vertroue die party sal in die komende plaaslikeregeringsverkiesing steun kan terugwen. Ramaphosa het tydens ‘n veldtogsaamtrek in die Wes-Kaap gesê die onlangse oorwinning in die Konstitusionele Hof oor die insluiting van kandidatelyste in ses munisipaliteite het die party nuwe stukrag gegee om kiesers se vertroue te herwin en steun te versterk:
Intussen het die Inkatha Vryheidsparty het sy Limpopo-manifes in aanloop tot die verkiesing bekendgestel. Die geleentheid het by die Relela Thusong-dienssentrum in Groter Tzaneen, Mopani-distrik, plaasgevind. ‘n Lid van die IVP se Nasionale Uitvoerende Komitee, Albert Mokoena, sê die party fokus op werkskepping, beter dienslewering, skoon regering, tradisionele leierskap, sterker plaaslike ekonomiese ontwikkeling en werkskepping sonder diskriminasie. Hy het ook groei in die party geloof:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, blameer senior raadgewers vir die Republikeinse Party se swak vooruitsigte voor volgende maand se middeltermyn-verkiesing. Trump bevraagteken verkiesingsuitgawes, die keuse van kandidate en die moontlike herafbakening van kiesafdelings, met meningspeilings wat toon die Demokrate kan beheer van die Huis oorneem. Spanning neem ook toe tussen Trump se politieke raadgewers, insluitend die veldtog-strateeg James Blair en die Withuis-stafhoof, Susie Wiles. Trump het Wiles verdedig maar Blair se hantering van veldtogfondse gekritiseer. Die 3 November-verkiesing sal bepaal wie die Kongres gaan beheer vir die laaste twee jaar van Trump se termyn.
# Rugby: Die Leeus het hul eerste wedstryd in die Europese Kampioenebeker-liga met 31-14 teen die Franse span La Rochelle verloor, maar het ‘n dapper vertoning gelewer ter ere van hul spanmaat, Hyron Andrews wat Vrydag dood is. Die spelers het na ‘n vroeë agterstand teruggeveg tot 14-elk, danksy drieë deur Henco van Wyk en Morne Brandon. La Rochelle het egter in die tweede helfte oorheers, maar die Leeus het tot die bitter einde aanhou veg. Kaptein Francke Horn het tydens ‘n emosionele oomblik van stilte voor die wedstryd Andrews se nommer vyf-trui op die veld geplaas.
En nog nuus oor die Kampioenebeker, die Bulle het hul veldtog begin met ‘n oortuigende oorwinning van 56-20 oor Stade Français in Pretoria. Die twintigjarige vleuel Cheswill Jooste het ‘n driekuns behaal, met die eerste een binne 20 sekondes na die afskop. Cobus Wiese, Cameron Hanekom, Marco van Staden, Jeandré Rudolph en Jan-Hendrik Wessels het ook oorgeduik. Losskakel Handré Pollard het al agt drieë verdoel, met die Bulle wat ‘n bonuspunt verseker het. Die Franse besoekers het vlugtig teruggeveg tot ‘n punteverskil van slegs agt maar die Bulle het die laaste 28 punte onbeantwoord aangeteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….