Nuus 13:00
BULLETIN 14 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal styg tot vier ná ‘n skietvoorval in Katlehong, Gauteng
# Iran verskerp sy aanvalle op skepe in die Seestraat van Hormoes
# En rugby: Evan Roos speel hierdie Saterdag sy eerste wedstryd van die seisoen vir die Stormers
# Nog twee slagoffers is dood ná gisteraand se skietvoorval in Katlehong-Noord in Gauteng. Die slagoffers was volgens berigte op pad terug van ‘n gedenkdiens toe ‘n gewapende man op hulle losbrand. Die polisie sê die laaste twee slagoffers is later in die hospitaal dood. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê dit bring die dodetal op vier te staan, terwyl drie mense beseer is. Sy sê die verdagte bly in polisie-aanhouding.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Toerisme is bekommerd oor 201-miljoen-rand in die Departement van Toerisme se 2025/26-begroting wat nie bestee is nie. Die departement het 91,7-persent van sy toekenning van 2,43-miljard-rand gebruik. Vertraagde verkryging vir vaardigheids- en Uitgebreide Openbare Werkeprogram-projekte, stadige infrastruktuur-lewering, geskille oor omvang en vakante befondste poste het hiertoe bygedra. Voorsitter Ronalda Nalumango sê die begroting se sukses moenie net aan besteding gemeet word nie, maar aan tasbare voordele wat gelewer is:
# Gauteng se Departement van Paaie en Vervoer het begin om sewe brûe te herstel langs provinsiale roetes in die Stad Tshwane. Dis deel van die departement se voortgesette pogings om noodsaaklike padinfrastruktuur te bewaar, padveiligheid te verbeter en plaaslike ekonomiese ontwikkeling te steun. Die LUR, Kedibone Diale-Tlabela, sê die werk is daarop gemik om die brûe se strukturele integriteit te herstel en op ‘n aanvaarbare standaard te bring:
Nuus uit die buiteland:
# Iran verander sy strategie en verskerp aanvalle op skepe in die Seestraat van Hormoes. Amptenare het aan Reuters gesê Teheran wil oliepryse hoog hou en druk op Amerika plaas voor volgende maand se middeltermynverkiesing. ‘n Amerikaanse militêre amptenaar sê Iran gebruik bemannings van klein, ongewapende bote om teikens te help identifiseer nadat Amerikaanse aanvalle sy radarstelsels beskadig het. Aanvalle het ook uitgebrei na gebiede naby Katar en die Verenigde Arabiese Emirate, wat belangrike olie- en gasvoorrade bedreig.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Evan Roos speel Saterdag in Kaapstad sy eerste kragmeting van die seisoen vir die Stormers in die Kampioenebekerwedstryd teen Bristol Bears van Engeland. Hy keer terug ná ‘n agterkniesening-besering en vervang die beseerde Hacjivah Dayimani in die nommer-agt-trui. Die tuisspan spog met ‘n splinternuwe voorry in die beginspan, bestaande uit Vernon Matongo, JJ Kotzé en Sazi Sandi. Die Springbokke Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cobus Reinach begin as die skakelpaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-222-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-142-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….