Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê hulle foute in die eerste toets teen Australië in Durban was eerder te wyte aan ingesteldheid as roekeloosheid. Die besoekers het met 214 lopies gewen. Matt Renshaw het sy beste toetsbeurt ooit van 190 aangeteken in die eerste van drie toetse. Bavuma erken die kolwers was nie opgewasse vir die uitdaging nie en sê daar was te veel gevalle van kolwers wat hul paaltjies weggegooi het. Hy hoop sy span kan beter vaar in die tweede toets wat Sondag in Gqeberha begin.
# Sokker: Banyana Banyana is deur na die derde kwalifiserende ronde vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles danksy ‘n oortuigende gemiddelde oorwinning van 7-0 oor Madagaskar in Bloemfontein. Suid-Afrika het die tweede wedstryd 3-0 gewen danksy ‘n doel deur Gabriela Moodaly-Salgado en twee deur die plaasvervanger Ronnel Donnelly. 2022 se Afrika-kampioen speel vroeg volgende jaar in die derde ronde teen Angola. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, is tevrede met die algehele vertoning:
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne vestig nou hul aandag op die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker, waarin hulle in die verlede nie veel sukses behaal het nie. Die Stormers, die Bulle en die Leeus neem aan die Kampioenebeker deel, en die Haaie en die Cheetahs aan die Uitdaagbeker. Die Stormers speel in Kaapstad teen die Engelse klub Bristol Bears en die Bulle verwelkom Stade Français op Loftus. Die Leeus kom teen La Rochelle te staan, die Haaie speel teen Lyon en die Cheetahs teen Aviron Bayonnais, almal in Frankryk.
Intussen speel die Springbok-losvoorspeler Evan Roos Saterdag sy eerste wedstryd van die seisoen vir die Stormers. Hy keer terug ná ‘n agterkniesening- besering en vervang die beseerde Hacjivah Dayimani in die nommer-agt-trui. Die tuisspan spog met ‘n splinternuwe voorry in die beginspan, bestaande uit Vernon Matongo, JJ Kotzé en Sazi Sandi. Die Springbokke Sacha Feinberg-Mngomezulu en Cobus Reinach begin as die skakelpaar.
# En laastens, motorsport: Rwanda se president, Paul Kagame, verwerp die idee dat Formule Een te groot is vir ‘n klein landjie soos syne. Rwanda het ’n tienjaar-ooreenkoms onderteken om vanaf vroeg in die 2030’s ’n F-1 Grand Prix aan te bied – die eerste in Afrika sedert 1993. Die wedren sal plaasvind sodra die nuwe baan voltooi is in Bugesera, 40 kilometer suid van die hoofstad, Kigali. Kagame sê geen geleentheid is te groot vir Rwanda nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….