Nuus 06:00
BULLETIN 14 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre Ampsklagkomitee verwerp bewerings oor die onttrekking van sy getuienisleier
# Die MK-party kanselleer sy verkiesingsmanifesbekendstelling
# En krieket: Bavuma erken hulle kon nie die mas opkom teen Australië nie
# Die voorsitter van die parlementêre ampsklagkomitee, Makashule Gana, beskuldig die EFF en die African Legal Professionals Association daarvan dat hulle die gebeure rondom die terugtrekking van advokaat Thandazani Madonsela se benoeming as getuienisleier vir die Phala Phala-ondersoek verkeerd voorgestel het. Die EFF en die vereniging het die Wes-Kaapse Hooggeregshof genader om die besluit te betwis. Gana sê die komitee se regspan sal aanvoer sy besluite is in ooreenstemming met die Parlement se reëls geneem wanneer die saak vandag hervat word:
# Die MK-party het die bekendstelling van sy plaaslikeregeringverkiesingsmanifes in Mpumalanga, Sondag, gekanselleer en sê die besluit hou nie verband met sy leier Jacob Zuma se gesondheid nie. Die party sê hy het die Siyathatha-saamtrek gekanselleer om hulpbronne te herlei na veldtogvoering op wykvlak en gemeenskapsbetrokkenheid. Dit volg op berigte van finansiële probleme wat sy planne vir ‘n groot manifesbekendstelling in die wiele ry. Die MK-party sê hy sal sy verkiesingsmanifes môre elektronies aan alle lede en strukture versprei.
# AfriForum sê sy jongste landwye patrollies het gelei tot inhegtenisname en die beslaglegging op dwelms, wapens en onwettige alkohol in verskeie gebiede. Die operasie het 178 buurt- en plaaswaggroepe ingesluit wat saam met die polisie gewerk het. Dit het gelei het tot die beslaglegging op wapens en dwelms in Springs, Gauteng, en sewe arrestasies en agt klopjagte op onwettige drankwinkels in Swellendam, in die Wes-Kaap. Jacques Broodryk van AfriForum sê die patrollies help om misdaad te bekamp en gemeenskapsveiligheid te verbeter:
# Die Wes-Kaapse regering sê goeie vordering word gemaak met ‘n projek van 74-miljoen-rand om vloedskade aan die Sewe Passe-pad naby George en ander paaie in die omgewing, insluitend Wittedrif naby Plettenbergbaai, te herstel. Die werk behels die vervanging van beskadigde dreineringspype en spoelbrûe, en die verbetering van dreinering. Na verwagting sal die projek teen Maart volgende jaar voltooi wees. Die LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers sê die projek het 92 werksgeleenthede geskep, met nog meer plaaslike ondernemings wat by die herstelwerk baat vind.
# President Donald Trump sê die VSA deel steeds inligting met Oekraïne te midde van sy voortdurende oorlog met Rusland. Dit volg op berigte dat Amerika die deel van inligting en Europese aankope van Amerikaanse wapens vir Oekraïne kan opskort indien Kiëf nie sy aanvalle diep binne Russiese grondgebied op die energie-infrastruktuur staak nie. Trump, wat die styging in wêreldwye dieselpryse lank reeds aan die oorlog tussen Oekraïne en Rusland toeskryf, sê beide presidente Volodymyr Zelenski en Vladimir Putin wil hê die oorlog moet eindig:
# Krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê die foute wat hulle in die eerste toets teen Australië in Durban gemaak het, was eerder te wyte aan ingesteldheid as roekeloosheid. Die besoekers het Suid-Afrika met 214 lopies gewen. Matt Renshaw het sy beste toetsbeurt ooit gespeel en 190 lopies aangeteken en Australië het gevolglik ‘n voorsprong van 1-0 in die reeks van drie toetse. Bavuma het erken die kolwers was nie opgewasse vir die uitdaging nie en sê daar was te veel gevalle waar kolwers hul paaltjies net prysgegee het. Hy sê hy hoop sy span kan beter vaar in die tweede toets, wat Sondag in Gqeberha begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-454-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-161-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….