Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die multinasionale sagtewarereus SAP is vir eers vrygestel nadat die Appèlhof beslis het die regter in die Hooggeregshof wat teen die maatskappy beslis het in die regsgeding van 12-miljard-rand, moet onttrek. Die eis is in 2008 ingestel deur System Applications Consultants nadat ‘n transaksie in 2004 skeefgeloop het.
GAUTENG:
# Beeld:
Is die eerste van die Media24-susterkoerante wat lei met die speaker in die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula wat vandag in die Hooggeregshof in Pretoria aansoek doen om ‘n interdik teen haar inhegtenisneming deur die Nasionale Vervolgingsgesag.
En tweedens skryf die koerant oor die Leeus se Ierse oorwinning van 38-14 teen Connacht.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die speaker se hofaansoek en berig daar is talle vrae oor die uitvoerende bestuurder van Steinhof, Markus Jooste se selfdood.
# Sowetan:
Berig oor die ontsnapping uit die Lindela-repatriasiesentrum van meer as 65 migrante wat wag op deportasie. Volgens ooggetuies het die wagte toegekyk toe die groep uit die sentrum stap.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n kenner wil oudpresident Jacob Zuma die geheime stemming in verkiesings afskaf sodat swart mense wat nie vir swart kandidate stem nie ontmasker kan word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met Mapisa-Nqakula se voorgenome interdik teen haar arrestasie.
Dan word berig hoe die 13-jarige Hennie Becker van Hartswater na ‘n hospitaal in Kimberley deurgejaag is nadat ‘n pofadder hom gebyt het. Sy pa, Hennie senior het by tye tot 180 kilometer per uur met sy bakkie gejaag.
En laastens is daar nuus oor Petrus en Annerie Smith van Heilbron wat in Sasolburg in die hof moet verskyn nadat ‘n plaasinwoner na bewering met ‘n knopkierie doodgeslaan is. Die man het die egpaar glo aangeval.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
Dan word berig ‘n skermswewer van Gauteng is in Piekenierskloof by Citrusdal dood toe hy na bewering geval het.
En laastens is daar nuus oor Borrie, die bosveldpapegaai wat in George ontsnap het. Daar is nou ‘n beloning van twee-duisend-rand uitgeloof.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die speaker se hofaansoek.
En berig oor die redes hoekom die stryd teen tuberkulose nie gewen kan word nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig met die aanwysing van Nelson Mandelabaai as moordhoofstad van Suid-Afrika, het president Cyril Ramaphosa tydens sy verkiesingsveldtog in die stad onderneem om stappe te doen om dit aan te spreek.
En tweedens skryf die koerant ontevrede klubs het uitgestap toe aangekondig is Gerald Antonie sal die nuwe president van OP-rugby wees.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is ‘n ernstige risiko vir die inwoners van Chatsworth met slegs een ambulans vir 75-duisend mense. Die koerant berig die DA is verhoed om ‘n oorsigbesoek te doen.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Duitsland sê hulle is bereid om die Namibiese Hyphen Waterstofenergieprojek as ’n buitelandse projek te ondersteun en buitelandse handel moontlik te maak.
En tweedens skryf die koerant daar was wydverspreide reënbuie oor die naweek. Veral ook in die droë Suide. Nog reën word voorspel.