Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig mynbou het met 12,7-persent gedaal in Augustus, wat dui op ‘n negatiewe uitwerking op die BBP in die derde kwartaal. Die koerant skryf Platinum Group Metals, steenkool en ystererts dryf die jaarlikse inkrimping aan terwyl die sektor met stygende koste moet worstel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die woordvoerder van die Jacob Zuma-stigting, Mzwanele Manyi, sê die oudpresident en MK-leier sterk goed aan en ontvang reeds besoekers. Hy is egter nog nie uit die Netcare St Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg ontslaan nie.
En tweedens skryf die webblad twee mans is doodgeskiet en nog vyf ander mense is gewond toe daar met hul terugkeer van ‘n gedenkdiens in Kathlehong op hulle losgebrand is. Die verdagte het hom na die voorval aan die polisie oorgegee en is in aanhouding.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die skietery in Kathlehong. Die koerant berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Tommy Mthombeni, het die toneel besoek. Die omstandighede rondom die skietery, insluitend die motief en die identiteit van die slagoffers, is nog nie bekend nie.
# Sowetan:
Berig die hoër lewenskoste maak dit al moeiliker vir gesinne om kos op die tafel te sit wat die druk op sopkombuise verhoog. Terwyl daar in stede aan die behoefte voldoen word, blyk dit dat plattelandse gemeenskappe die ergste deurloop.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n entrepeneur wat sy restaurant moet toemaak nadat hy duisende rande verloor het as gevolg van die regering wat nie rekenings vereffen nie. Hy sê die regering het ook ten spyte van die kontrak met hom produkte by sy opposisie aangekoop.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor Zuma se beweerde herstel.
En tweedens skryf die koerant die 14-jarige Allegra Styles van Gqeberha wat saam met haar kêrel, die 25-jarige Brent Naidoo, vermis geraak het, is veilig in die stad opgespoor. Die polisie soek nog na Naidoo.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig St George’s-park in Gqeberha se opgradering vir die IKR se Wêreldbeker vir Mans wat van 4 Oktober 2027 deur Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië aangebied word, vorder goed.
En tweedens skryf die koerant oor die Grasslands Nasionale Park in die Oos-Kaap wat ‘n belangrike toevoeging is tot Suid-Afrika se beskermde gebiede.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ’n sesjarige meisie veg om haar lewe nadat ’n tienerseun wat met ’n mes gewapen was, toegang verkry het tot ’n klaskamer by ’n laerskool vir kinders met spesiale behoeftes in Umhlali, aan die KwaZulu-Natalse Noordkus. Die seun het haar verskeie kere gesteek. Volgens berigte was die tiener in Maart verantwoordelik vir die mislukte bomaanval by Ballito Junction. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Meatco is glo besig om die regering vir 85-miljoen-rand te vra om die voortbestaan van die maatskappy te verseker. Daar is te midde van die bek-en-klouseer-uitbreking ook ‘n voorstel om werknemers se salarisse vir drie maande met ’n derde te sny. Die jongste stappe volg te midde van vrae oor besteding aan bestuursvergaderings en voordele vir die waarnemende uitvoerende hoof, Albertus Aochamub.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n leerkrag, Margrit Delport, wat ná 48 jaar aftree.