Nuus 09:00
BULLETIN 12 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Jacob Zuma-stigting sê sy gesondheid mag nie in ‘n nasionale spektakel verander nie
# SADOU moedig matrikulante aan om gefokus en gedissiplineerd te bly
# En Pous Leo moet ‘n longoperasie ondergaan
# Die Jacob Zuma-stigting veroordeel wat hy as “media-waansin” beskryf, en sê dit word aangeblaas deur gerugte, verkeerde inligting en meedoënlose openbare obsessie oor die voormalige president se gesondheid. Die 84-jarige Zuma word sedert verlede week by die Netcare St Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal behandel. Die stigting se woordvoerder Mzwanele Manyi sê Zuma verdien dieselfde waardigheid, privaatheid en respek wat alle mense met ‘n gesondheidsuitdaging verdien. Hy voeg by sy gesondheid behoort nie ‘n geleentheid vir sensasie te wees nie:
# Die DA dring aan op ‘n onafhanklike ondersoek na 12 betwiste insolvente boedels wat deur die Landbank hanteer word, met moontlike botsende belange vir die ondersoeker Angelena Poole. Sy is een van twee persone wat aangestel is om die geskille te ondersoek en het verskeie bestaande professionele bande met die Landbank. Igor Scheurkogel van die DA sê boere verdien ‘n ondersoek wat die optrede van prokureurs en likwidateurs kan fynkam sonder dat die ondersoeker se eie verantwoordelikhede ten opsigte van boedels of haar bande met die Landbank, die saak kan benadeel:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sê die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen is die hoogtepunt van jare se harde werk, toewyding, deursettingsvermoë en opoffering deur leerders, onderwysers, ouers en voogde. ‘n Rekordgetal van 962-duisend-832 kandidate is geregistreer vir die eksamen in Oktober en November, wat môre begin. SADOU se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê leerders word aangemoedig om gefokus, gedissiplineerd en vol selfvertroue te bly terwyl hulle die eindeksamen aanpak:
# Pous Leo het bekend gemaak dat hy ‘n operasie sal ondergaan om ‘n gewas op sy long te laat verwyder. Die 71-jarige het die aankondiging Sondag aan diegene gedoen wat op die Sint Pietersplein vir die Angelus-gebed byeengekom het. Pous Leo sê die gewas is in ‘n baie vroeë stadium opgespoor en is goed afgebaken. Volgens die Vatikaan sal die verwagte hersteltyd in die hospitaal ongeveer ‘n week wees. ‘n Longgewas is ‘n klein massa digte weefsel in die long, en die meeste daarvan is nie-kankeragtig.
# Rugby: Die Springbok-haker Bongi Mbonambi se loopbaan by die Haaie kan dalk kortgeknip word terwyl hy op ‘n dissiplinêre uitspraak oor beweerde wangedrag wag. Die 35-jarige is betrokke by ‘n dissiplinêre verhoor wat reeds maande lank duur en spruit uit ‘n beweerde oortreding van spanreëls tydens ‘n spanbou-sessie voor die seisoen. Volgens Rapport het Mbonambi en twee ander spelers, Eduan Swart en Trevor Nyakane, na bewering protokolle vir sosiale verkeer oortree wat deur die afrigter, JP Pietersen, neergelê is. Mbonambi is vanjaar nog nie deur die Haaie vir ‘n wedstryd gekies nie weens die voortdurende dissiplinêre proses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-514-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-200-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….