Nuus 13:00
BULLETIN 10 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa is spyt oor die geweld weens asielaansoeke
# Altesaam 268 gevangenes is gereed vir hul matriekeksamen
# En tennis: Daniil Medvedev wen sy eerste wedstryd sedert hy gediskwalifiseer is
# President Cyril Ramaphosa is spyt oor die geweld tydens betogings in Durban en Soweto oor ongedokumenteerde immigrasie en die verwerking van asielaansoeke. Tien voertuie is Donderdag in Soweto en 14 in Durban aan die brand gesteek tydens betogings wat gevolg het op ‘n uitspraak deur die Konstitusionele Hof in Julie, in ‘n saak wat die Scalabrini-sentrum in Kaapstad aanhangig gemaak het. Ramaphosa steun die Departement van Binnelandse Sake se besluit om die verwerking van asielaansoeke by sy kantore op te skort:
Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, het intussen weermagondersteuning gevra te midde van die voortdurende geweld in Durban. Die onrus het versprei na gebiede soos Umlazi en Merebank, waar voertuie en geboue aan die brand gesteek en ondernemings geplunder is. Die Departement van Binnelandse Sake het die riglyn teruggetrek wat vlugtelingontvangskantore toegelaat het om aansoeke te ontvang ingevolge die hersiene proses. Ntuli vra ondersoeke na die plundering en onrus:
# Altesaam 268 Graad 12 kandidate van die Departement van Korrektiewe Dienste is gereed om met hul 2026 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen te begin. Die eksamen begin Dinsdag en duur tot 26 November. Die matrieks is by 18 korrektiewe diensteskole regoor die land ingeskryf. Die Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Samuel Thobakgale, het hul sterkte toegewens terwyl hulle voorberei vir die eindeksamen:
# Die Franse polisie is toenemend onder skoot oor hul optrede tydens studente-betogings ná ‘n reeks ernstige beserings waarby onder andere tieners betrokke was. Reuters berig 24 sake wat met polisie-optrede verband hou, word ondersoek. ‘n Seun van 14 het ernstige gesigsbeserings opgedoen nadat ‘n traangas-handgranaat hom getref het en ‘n 15-jarige het sy hand verloor in ‘n voorval met ‘n skok-handgranaat. Die regering het die gebruik van skok-handgranate opgeskort tydens studente-betogings hangende ‘n ondersoek na die voorval. Polisievakbonde voer aan beamptes moet oor die nodige toerusting beskik om gewelddadige betogings te kan hanteer.
# Die Rus Daniil Medvedev het die Duitser Jan-Lennard Struff geklop in sy eerste wedstryd sedert hy gediskwalifiseer is in die Chinese Ope. Die vyfde gekeurde Medvedev het teruggeveg om Struff vandag in die tweede ronde van die Sjanghai Meesterstoernooi met 4-6, 6-4 en 6-3 te verslaan en het 21 kishoue aangeteken. Medvedev is Maandag in sy halfeindstryd teen Novak Djokovic in Beijing gediskwalifiseer toe hy ‘n toeskouer in die pawiljoen met ‘n bal getref het. Medvedev sê dit was ‘n ongeluk en het om verskoning gevra.
# En rugby: Nieu-Seeland het die Bledisloe-beker behou nadat hulle Australië met 50-19 op Eden Park in Auckland geklop het. Die All Blacks was teen rustyd met 17-14 voor, maar het in die tweede helfte nog meer momentum opgebou en nog vyf drieë gedruk vir ‘n oortuigende oorwinning. Die All Blacks is nou reeds vir 54 toetswedstryde onoorwonne op Eden Park en hou die Bledisloe-beker reeds sedert 2003. Die spanne speel weer volgende Saterdag in Sydney teen mekaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….