Nuus 11:00
BULLETIN 10 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-jeugliga vra minister Schreiber se verwydering
# COSATU wens Regter Navi Pillay geluk met haar Nobelprys vir Vrede
# En: SANParke verwelkom die skuldigbevinding in ‘n dekade lange renosterstropery-saak
# Die ANC-jeugliga het president Cyril Ramaphosa gevra om die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, uit sy pos te verwyder. Die Jeugliga beskuldig hom van swak hantering van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor asielaansoeke en sê riglyne wat die departement uitgereik het op 28 September, het verwarring veroorsaak en bygedra tot onrus en druk op vlugtelingontvangskantore. Die riglyne is later teruggetrek. Woordvoerder, Sindiswa Scheepers, sê die departement moes die praktiese uitdagings in die uitvoering van die hofuitspraak voorsien het en stappe gedoen het om dit te voorkom:
# Die vakbondfederasie COSATU het regter Navi Pillay gelukgewens met haar Nobelprys vir Vrede. Pillay het in ‘n werkersklasgesin in Durban grootgeword. Sy het in 1967 ‘n regspraktyk in KwaZulu-Natal geopen en in 1995 Suid-Afrika se eerste swart vroue-regter in die Hooggeregshof geword. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die toekenning bied erkenning aan haar lewenslange werk om menseregte te beskerm en te veg vir geregtigheid:
Amerika het intussen sanksies ingestel teen die Internasionale Strafhof, slegs ure nadat Pillay die prys gewen het. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Washington wil verhoed dat Amerikaanse burgers vervolg word. Hierdie maatreëls is op die hof gemik en kan sy bank-, versekerings- en tegnologiedienste ontwrig, al is sekere transaksies aanvanklik vir ses maande opgeskort. Die Internasionale Strafhof veroordeel die sanksies as ‘n aanval op internasionale reg en beloof om sy werk onafhanklik voort te sit.
# Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het die skuldigbevinding van ‘n voormalige Krugerwildtuin-streekbewaarder Rodney Landela en voormalige staatsveeartstegnikus Kenneth Mochocho verwelkom, op aanklagte van die onwettige jag van ‘n witrenoster in ‘n beskermde gebied. Die saak dien al langer as tien jaar voor die howe. Vier ander aanklagte, insluitend die diefstal van die renosterhorings, sameswering en ontsnapping uit wettige bewaring, is teruggetrek. SANParke sê die uitspraak is ‘n beduidende oorwinning in die stryd teen wildlewemisdaad en die beskerming van Suid-Afrika se natuurlike erfenis.
# Rugby: Argentinië het die verdedigingsafrigter Shaun Edwards gewerf vir die Rugbywêreldbeker-toernooi volgende jaar in Australië. Die 59-jarige Brit sluit aan by die Pumas ná sewe jaar by Frankryk waar hy gehelp het om drie Sesnasies-titels te wen. Die voormalige Argentynse afrigter, Mario Ledesma, keer ook terug as voorspelerafrigter in Felipe Contepomi se afrigtingspan. Edwards begin einde Oktober in sy nuwe pos, voor die Nasieskampioenskap-wedstryde teen Ierland, Italië en Frankryk in November. Argentinië het die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi in 2007, 2015 en 2023 bereik. Hul sal volgende jaar in die groepfase teen Fidji, Spanje en Kanada te staan kom.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad moedig inwoners aan om hulp te verkry met hul geestesgesondheid terwyl Wêreldgeestesgesondheidsdag vandag herdenk word. Tekens van geestesgesondheidsprobleme sluit in langdurige depressie, veranderinge in slaap- of eetgewoontes, konsentrasieprobleme en die vermyding van vriende of familie. Francine Higham, lid van die burgemeesterskomitee vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, het ook leerders wat vir eksamens voorberei, aangemoedig om stres te bestuur, genoeg te slaap en ondersteuning te soek wanneer dit nodig is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….