Nuus 13:00
BULLETIN 9 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse regter Navi Pillay is bekroon met die 2026 Nobelprys vir Vrede
# Primier Lesufi sê wetstoepassing hou die Soweto-betogings dop
# En motorsport: Lewis Hamilton hoop op reën in Singapoer
# Die Suid-Afrikaansgebore regsgeleerde Navi Pillay is met die 2026 Nobelprys vir Vrede bekroon vir haar pogings om vrede, menseregte en internasionale reg te bevorder. Pillay, wat tydens apartheid in Durban, KwaZulu-Natal, gebore is, het as Suid-Afrikaanse en internasionale regter gedien, asook as hoof van menseregte by die Verenigde Nasies. Jorgen Watne Frydnes van die Nobelkomitee sê Pillay se werk beklemtoon die belangrikheid van geregtigheid en die oppergesag van die reg in die bou van blywende vrede:
# Die Gautengse primier, Panyaza Lesufi, sê wetstoepassingsagentskappe hou die situasie in Soweto onder beheer te midde van versetoptrede teen immigrasie. Lesufi sê bykomende hulpbronne, insluitend die weermag, is ontplooi om te help om die orde te handhaaf. Hy sê die regering hou gesprekke met organiseerders wat vreedsaam hul kommer geopper het, met die doel om oplossings deur dialoog te vind. Lesufi waarsku egter daar sal streng opgetree word teen enigiemand wat betrokke is by geweld of die beskadiging van eiendom:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid, in samewerking met ORBIS International stel vandag ‘n program bekend vir die sifting en behandeling van diabetiese retinopatie by die Tshwane-distrikshospitaal. Dit vorm deel van Oogsorgbewusmakingsmaand en het ten doel om toegang tot oogsorg te verbeter en voorkombare blindheid wat met diabetes verbind word, te voorkom. Die program fokus op vroeë opsporing, verwysing en behandeling, met sifting nader aan gesondheidsorgfasiliteite. Die proefprojek sluit die Laudium-, Eersterus- en Bophelong-klinieke in. Gesondheidsorgwerkers sal opleiding ontvang om oogsorg deel te maak van chroniese siektebestuur.
Nuus uit die buiteland….
# Die Franse vliegtuigvervaardiger Airbus het verlede maand 72 vliegtuie afgelewer, een minder as in September verlede jaar. Dit bring die totale aantal aflewerings vir die eerste nege maande van die jaar op 547 te staan, wat agt-persent meer is as in die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar. Biman Bangladesh Airlines het intussen ‘n bestelling by Airbus geplaas vir die vervaardiging van tien vliegtuie, wat die nasionale lugredery se vloot tot 35 sal vergroot. Die lugredery het vroeër vanjaar ook 25 vliegtuie by Boeing bestel.
# Motorsport: Die Ferrari-renjaer Lewis Hamilton hoop op nat weer vir die naweek se Grand Prix in Singapoer en sê hy floreer as hy in die reën moet jaag. Die sewemalige wêreldkampioen het verlede naweek derde geëindig in Maleisië. Hy het op droëweerbande in gladde toestande begin en van die 18de plek af teruggeveg. Hamilton sê uitdagende weerstoestande toets renjaers se vaardighede en skep geleenthede om ‘n verskil te maak. Reën kan Saterdag se snelwedren en Sondag se Grand Prix beïnvloed. Met slegs een oefenrondte voor kwalifisering vir die snelwedren, het spanne beperkte tyd om voor te berei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-603-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-186-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….