Nuus 17:00
BULLETIN 5 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof gelas ‘n mondelinge verhoor in die Fikile Mbalula en Nkosazana Dlamini-Zuma se lastersaak
# Die voormalige hertog van York betwis deursoekings-lasbriewe wat met sy inhegtenisneming verband hou
# En tennis: Carlos Alcaraz ontmoet Jiri Lehecka in die eindstryd van die Japannese Ope
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het beslis daar is wesenlike verskille in die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, se lastersaak teen die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee-lid, Nkosazana Dlamini-Zuma. Sy beskuldig Mbalula daarvan dat hy stemme gekoop het op die party se Nasrec-konferensie in 2022. Waarnemende regter Henno Viljoen het gelas die saak moet mondelings aangehoor word en sê dit kan slegs nie deur skriftelike voorleggings opgelos word nie. Mbalula en Dlamini-Zuma sal albei getuienis lewer en kruisondervra word. ‘n Voorverhoorkonferensie sal bepaal watter getuies geroep word en wanneer die saak aangehoor word. Die kwessie rondom regskoste sal beslis word wanneer die saak afgehandel is.
# AfriForum het die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, gevra om dringend in te gryp met voortslepende geweld tussen vermeende onwettige mynbougroepe in Schoemanskloof, Mpumalanga. Ses vermoedelik onwettige mynwerkers is in Augustus doodgeskiet, met nog skietvoorvalle wat verlede week aangemeld is. Jacques Broodryk van AfriForum vra die polisie om die groter misdaadnetwerke agter onwettige mynbou te ondersoek, insluitend befondsers, goudkopers en vuurwapenverskaffers, en om ‘n sterker sigbare polisieteenwoordigheid in die gebied te handhaaf:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die regering moet belegging in die onderwyssektor verhoog om onderwysers te ondersteun en leeruitkomste te verbeter. Die vakbond sê op Wêreld-onderwyserdag, onderwysers benodig beter werksomstandighede en ondersteuning, omdat hulle te kampe het met oorvol klaskamers, personeeltekorte, veiligheidskwessies, beperkte hulpbronne en toenemende administratiewe druk. Claude Naiker van die vakbond vra groter belegging in onderrig en opleiding, insluitend in kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding:
# Die voormalige hertog van York, Andrew Mountbatten-Windsor, doen regstappe teen die deursoekings-lasbriewe wat die polisie voor sy inhegtenisneming in Februarie gebruik het. Hy het toestemming gekry om die Hooggeregshof te vra om te bepaal of die Thames Valley-polisie wettig opgetree het toe sy huis op die Sandringham-landgoed en sy voormalige woning, Royal Lodge, deursoek is. Mountbatten-Windsor is aangekeer vir vermeende wangedrag in ‘n openbare amp weens bewerings dat hy sensitiewe regeringsinligting met die pedofiel Jeffrey Epstein gedeel het. ‘n Privaat verhoor vind na verwagting Donderdag plaas.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, het die eindstryd van die Japannese Ope in Koto gehaal toe hy sy Spaanse landgenoot, Jaume Munar, geklop het. Hy bly op koers vir sy eerste titel sedert hy verlede maand na ‘n langdurige polsbesering teruggekeer het. Die 23-jarige het teen die plaaslike speler Ben Shelton verloor in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope, waar hy twee van sy sewe Grand Slam-titels gewen het. Alcaraz speel teen die Tsjeg Jiri Lehecka, wat Valentin Vacherot van Monaco in die ander halfeindstryd geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-45-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-148-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….