Nuus 16:00
BULLETIN 5 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlengwa is ten gunste van veranderings aan die Padongelukkefonds se brandstofheffing
# Trump skep ‘n Super Intelligensiemag om toesig te hou oor K-I-beleid
# En sokker: Europese klubs het hulle oog op die Suid-Afrikaanse vleuel Relebohile Mofokeng
# Die adjunkminister van Vervoer, Nkhululeko Hlengwa, sê die regering ondersoek veranderings aan die wyse waarop die Padongelukkefonds befonds word. Hy steun ‘n gemengde befondsingsmodel, wat kan beteken die huidige brandstofheffing word verminder of selfs afgeskaf en ander bronne van befondsing word ingestel. Dit kan derdeparty-voertuigversekering en reisversekering vir buitelandse besoekers insluit. Die fonds ontvang tans twee-rand-27-sent van elke liter brandstof wat verkoop word. Hlengwa sê die huidige befondsingsmodel is nie volhoubaar nie en dringende hervorming is nodig om te verseker die fonds bly lewensvatbaar.
# ‘n Ontvoerde man is ongedeerd gevind in Randfontein, Gauteng, en vyf verdagtes in hegtenis geneem ná ‘n intelligensiegedrewe operasie. Die ongenoemde man is na bewering op 30 Augustus in die Johannesburgse middestad ontvoer, waarna ‘n losprys van 32-miljoen-rand geëis is. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê ‘n span speurders van Johannesburg-Sentraal, Misdaadintelligensie, die Teenontvoeringseenheid, die Blitspatrollie en privaat veiligheidsondernemings het drie mans betrap met die selfoon waarmee die losprys na bewering geëis is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n nuwe taakmag geskep om die regering se benadering tot kunsmatige intelligensie te koördineer, wat hy “superintelligensie” noem. Die leierskapspan van vier lede sal gelei word deur die direkteur van Nasionale Intelligensie, Jay Clayton. Die taakmag sal die gevare en geleenthede van K-I ondersoek en aanbeveel watter rol die federale regering moet speel. Hy sal ook tegnologie-maatskappye, openbare belangegroepe en ander organisasies betrek. Die paneel het 120-dae om sy verslag op te stel en sal regstreeks aan Trump en sy personeelhoof verslag doen.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse vleuel Relebohile Mofokeng wek belangstelling van verskeie Europese klubs ná sy indrukwekkende begin by die Belgiese span Union Saint-Gilloise in Brussel. Die oordragkenner Ekrem Konur sê Chelsea, Brighton, Atletico Madrid en Napoli hou die 21-jarige dop. Mofokeng het volgens berigte in Julie van Orlando Pirates na Union oorgeskakel teen ‘n bedrag van 65,5-miljoen-rand. Hy het reeds indruk gemaak in die Belgiese en die Europa-liga en ook twee doele vir Bafana Bafana aangeteken in hul onlangse oorwinning van 5-0 oor Eritreë.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-42-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Missing in Southern Africa sê motorfietsryers, die polisie, nooddienste en gemeenskapsgroepe het in Johannesburg saamgetrek vir ‘n ondersteuningsrit vir vermiste kinders. Die geleentheid in Turffontein is gehou ter ere van Milano Tladi, wat twee was toe hy op 30 Junie vermis geraak het. Sy ouers, Monique en Thebogo Tladi, het die geleentheid bygewoon. Woordvoerder Priya Ranchod sê die konvooi het na Glenesk gery waar Milano die laaste keer gesien is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….