Nuus 13:00
BULLETIN 5 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kriminoloog waarsku oor die toenemende veiligheidskrisis in Suid-Afrika
# Talle skole in Frankryk is gesluit weens voortgesette leerderbetogings
# En rugby: Die eerste plaaslike derbies van die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen vind die naweek plaas
# Die kriminoloog Chris Kanyane sê misdadigers kom met byna enigiets weg te midde van ‘n gebroke strafregstelsel. Dit volg ná die onlangse massa-skietvoorvalle in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal waarin meer as 30 mense dood is. Kanyane sê mislukte ondersoeke, lae skuldigbevindingsyfers en ‘n polisiemag sonder voldoende hulpbronne gee misdadigers vrye teuels en gemeenskappe leef voortdurend in vrees. Hy waarsku geweldsmisdaad sal aanhou toeneem indien probleme met wetstoepassing, forensiese dienste en doeltreffendheid in die howe nie dringend reggestel word nie. Kanyane sê die massamoorde verteenwoordig ‘n dieper openbare veiligheidkrisis.
# Die DA in Tshwane eis ‘n onmiddellike veiligheidsbeoordeling van die Wonderboom-lughawe nadat sekerheidskontrakte op 30 September verstryk het. Die lughawe ondersteun meer as twee-duisend-500 mense, huisves talle lugvaartondernemings en hanteer jaarliks meer as 148-duisend vliegtuigbewegings. Die DA-lid, Dana Wannenburg, sê Tshwane het die kontrakte laat verval terwyl een van sy belangrikste en waardevolste bates nie voldoende beskerm word nie:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie vra groter erkenning vir vroue in die onderwysberoep en beklemtoon hul noodsaaklike rol in die vorming van toekomstige geslagte. Dit is vandag Wêreld-onderwyserdag met die tema: “Staan by onderwysers: 60 jaar se beskerming van die beroep, die bevordering van die status daarvan en die vorming van ons toekoms“. SADOU se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê hoewel die meeste onderwysers vroue is, oorheers mans steeds leiersposisies:
In Frankryk is sowat 500 hoërskole vandag ten volle of gedeeltelik gesluit terwyl leerderbetogings voortduur. Die minister van Onderwys, Édouard Geffray, sê die sluitings is ‘n veiligheidsmaatreël terwyl verdere betogings môre beplan word. Die betogings het in September begin weens ‘n tekort aan onderwysers, oorvol klaskamers en swak-onderhoude skoolgeboue en sommige het gewelddadig geraak. Geffray sê 24 skole is aan die brand gesteek of geplunder en minstens 170 leerders en 78 onderwysers beseer. Meer as vyf-duisend mense is in hegtenis geneem, waarvan die meeste tieners is.
# Rugby: Die eerste plaaslike derbies van die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen vind komende naweek plaas wanneer die Stormers en die Haaie in Kaapstad ontmoet en die Bulle en die Leeus op Loftus. Die Haaie is tans boaan die punteleer na twee tuis-oorwinnings en die Leeus is ook onoorwonne in hulle eerste twee wedstryde in Johannesburg. Die Stormers en die Bulle het gemengde uitslae gehad in hulle weg-wedstryde. Die Leeus is tans derde op die punteleer, die Bulle sewende en die Stormers agste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-913-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….