Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die taxibaas, Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni, het voor die Madlanga-kommissie ontken dat hy enige aandeel gehad het aan die brandstigting van 51 busse ná ‘n vergadering deur president Cyril Ramaphosa in Mpumalanga in 2025. Getuienis voor die kommissie dui op ‘n verband tussen die uitoefening van druk en die aanval, maar Sibanyoni sê sy optrede was beperk tot wettige sakebedrywighede.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Israel gaan die beheer oor die vlieëniers wat na die land vlieg strenger toepas nadat die medevlieënier van Airdubai onderweg na Tel Aviv probeer het om die vlieënier van die vliegtuig met ‘n mes dood te steek en die vliegtuig met passasiers aan boord te laat neerstort. Hy is deur die kajuitpersoneel en passasiers oorrompel.
En tweedens skryf die webblad die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het die Hooggeregshof in Pretoria genader om te keer dat die aanklagte teen die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, teruggetrek word.
GAUTENG:
# The Star/IOL:
Skryf United Phosphorous Limited en drie van sy direkteure het in die Durbanse Streekhof verskyn in verband met beweerde oortredings van omgewingswetgewing wat uit die onrus van 2021 voortspruit. Die fasiliteit, waar plaagdoders geberg is, is tydens die onrus deur plunderaars aan die brand gesteek en ‘n besoedelingsgevaar veroorsaak.
# Sowetan:
Berig ook oor Sibanyoni se getuienis by die Madlanga-kommissie en die brandstigtingsvoorval. Die koerant skryf Sibanyoni se oorname van die Putco-busdiens deur taxi-eienaars is daarna afgeweer.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening dat president Ramaphosa se planne teen geslagsgeweld meriete inhou maar sal misluk as gevolg van ‘n tekort aan hulpbronne.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die voortslepende stryd van die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, teen die Suid-Afrikaanse regering. Suid-Afrika wil Bozell opnuut amptelik inroep nadat hy die regering in die media gekritiseer het.
En tweedens skryf die koerant diewe het die 211 jaar oue kerkklok van die Evangelical-kerk in Bethelsdorp in die Oos-Kaap gesteel en moontlik vir skrootmetaal verkoop.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die bekendstelling van die Nelson Mandelabaai-rolprentkantoor saam met die plaaslike boksbedryf by die Nelson Mandelabaai-stadion in Junie het alle kostes oorskry. Daar is aanvanklik 300-duisend-rand vir die geleentheid begroot, maar die werklike koste, sonder munisipale goedkeuring, was 2,8-miljoen-rand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Oval-krieketstadion in Pietermaritzburg gaan teen ‘n koste van een-miljoen-rand opgeknap word.
En tweedens word berig ‘n 46-jarige vrou is in hegtenis geneem in verband met die sogenaamde foto-uitruilingsbedrogspul waar wettige Suid-Afrikaners se paspoortfoto’s met die van onwettige migrante vervang word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n besending Namibiese vleis ter waarde van miljoene rand wat onderweg is na Europa, sal in die lig van die bek-en-klouseer-uitbreking afhang van Namibië se naspeurbaarheidstelsel en die vereistes van die invoerlande.
En tweedens skryf die koerant vroue in Namibië se landelike gebiede het gemiddeld sowat vyf kinders elk, vergeleke met ’n bietjie meer as drie vir vroue in dorpe en stede in die land.