Nuus 06:00
BULLETIN 1 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit waarsku dat Suid-Afrika dalk uit AGOA geskors kan word
# Meer as ‘n miljoen toeriste het Suid-Afrika in Augustus besoek
# En rugby: Die 2027 Wêreldbeker begin oor presies ‘n jaar
# Solidariteit waarsku Suid-Afrika kan voor Kersfees uit die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) geskrap word. Dit volg terwyl die Withuis die lys van deelnemende lande hersien, met ‘n aankondiging wat teen November verwag word. Suid-Afrika is verantwoordelik vir 54-persent van alle AGOA-verwante uitvoere na die VSA en is die skema se grootste begunstigde. Theuns du Buisson van Solidariteit sê hulle is bekommerd dat die beëindiging van Suid-Afrika se deelname aan AGOA deel kan vorm van die VSA se toenemende optrede teen die land:
# Suid-Afrika het in Augustus meer as ‘n miljoen internasionale toeriste verwelkom, ‘n toename van 7,4-persent vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Die minister van toerisme, Patricia de Lille, sê die toename dui op ‘n sterk belangstelling in Suid-Afrika en behoort gebruik te word om meer werksgeleenthede en beleggings te skep. Die ministerie se woordvoerder, Aldrin Sampear, sê die VSA, Brittanje en Duitsland was in Augustus die grootste oorsese markte:
# Die Madlanga-kommissie sal vir die volgende twee weke sittings agter geslote deure hou om getuienis aan te hoor wat nie in die openbaar bekendgemaak kan word nie weens hangende ondersoeke en vertroulike materiaal. Openbare sittings sal op 9 November hervat, ná die plaaslike verkiesing op 4 November. Jeremy Michaels van die kommissie sê ‘n tweedaagse seminaar sal vandeesmaand gehou word ter voorbereiding van die finale verslag, wat na verwagting op 25 Januarie aan president Cyril Ramaphosa voorgelê sal word:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê die inhegtenisneming van ‘n sekuriteitsbeampte wat by die kantore van die Nasionale Vervolgingsgesag in Durban diens gedoen het, laat ernstige vrae ontstaan oor die keuringsproses vir privaat sekuriteitspersoneel. Die verdagte, wat teregstaan op 15 aanklagte van verkragting, is na bewering met DNS verbind aan aanvalle in Durban en Pietermaritzburg tussen 2014 en verlede jaar. Phakamile Hlubi-Majola van MISA vra dringende optrede om die polisie se agterstand met DNS-ontledings, wat in Julie op bykans 300-duisend inskrywings gestaan het, uit te wis.
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu het veiligheidsdienste opdrag gegee om voor te berei vir moontlike bedreigings. Dit volg nadat ‘n Flydubai-vlug op pad na Israel gister na Saoedi-Arabië herlei is nadat die een vlieënier die ander aangeval het en blykbaar probeer het om die vliegtuig te laat neerstort. Passasiers en bemanning het die aanvaller oorrompel en hy is gearresteer. Die meeste van die gestrande passasiers het gisteraand met ‘n ander Flydubai-vlug in Tel Aviv geland. Die Israelse minister van Verdediging, Israel Katz, sê die voorval was ‘n “poging tot ‘n jihadistiese terreuraanval”.
# Rugby: Die volgende Rugbywêreldbeker begin vandag oor ‘n jaar in Australië. Dit sal die grootste toernooi nóg wees, met 24 lande wat in ses groepe meeding. Die toernooi sal ook vir die eerste keer ‘n ronde van 16 insluit, asook ‘n “Super Sondag” met vyf groepswedstryde die 17de Oktober. Wedstryde sal in sewe gasheerstede gespeel word, naamlik Sydney, Brisbane, Perth, Adelaide, Melbourne, Townsville en Newcastle. Toeskouers uit 135 lande het reeds 750-duisend kaartjies gekoop. Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Brett Robinson, sê die toernooi in sy tuisland gaan ‘n ongeëwenaarde fees wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-774-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-155-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 101-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….