Nuus 08:00
BULLETIN 27 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika lok steeds beleggers wêreldwyd
# COSATU steun die Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste
# En rugby: Suid-Afrika maak skoonskip in die eerste ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika lok wêreldwye beleggings namate die regering infrastruktuurontwikkeling versnel om die ekonomie te laat groei. Tydens die bekendstelling van die ANC se “Asiy’ekhaya“-plaaslikeverkiesingsveldtog in eThekwini, sê Ramaphosa die regering het die bedrywighede by die Durban-hawe omgekeer, en beleggers sien vooruitgang regoor die land. Hy sê meer beleggings sal werkskepping in alle sektore van die ekonomie aandryf:
# COSATU verwelkom die Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste se voorlegging in die Parlement en sê dit spreek die indiensneming van onwettige migrante-werkers aan. Die wetsontwerp sal die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, toelaat om beperkings te stel op die getal gedokumenteerde migrante-werkers in ‘n werksplek, streek, sektor of beroep. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê dis nodig te midde van wat hy beskryf as ʼn uiters hoë werkloosheidsyfer van 43,8-persent algeheel en 60-persent onder jongmense:
# Eskom sê hy handhaaf 6-duisend-571 megawatt opwekkingsvermoë in reserwe weens oormaat kapasiteit en dit dra by tot stelselsekerheid. Beplande instandhouding bly ʼn prioriteit en die verliesfaktor weens beplande onderhoud is gemiddeld 13,83-persent, wat meer is as die 10,71-persent in dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom se woordvoerder Daphne Mokwena sê die nutsdiens het ook sy vrystelling-teikens bereik:
# City Power sê hy verskerp veiligheidsmaatreëls om diefstal en vandalisme van elektrisiteit-infrastruktuur te bekamp. Dit volg nadat drie verdagtes die afgelope week in twee afsonderlike voorvalle in Lawley en Wes-Turffontein vasgetrek is. Die nutsdiens sê 148 verdagtes is tussen Januarie en September in hegtenis geneem weens vermeende peutery met elektriese infrastruktuur. In die 2024/2025-boekjaar is een-duisend-138 infrastruktuur-verwante voorvalle aangemeld teenoor een-duisend-54 in die 2025/26-boekjaar. City Power moedig gemeenskappe aan om verdagte gedrag aan te meld en nie vermeende misdadigers te konfronteer nie.
# En ten slotte, sportnuus:
# Sokker: Bafana Bafana het hul kwalifiserende veldtog vir die 2027 Afrikabeker-toernooi met ‘n oorwinning van 2-1 oor Guinee op die Orlando-stadion in Soweto afgeskop. Ime Okon het die telling in die 30ste minuut geopen en aan Suid-Afrika ‘n voorsprong van 1-0 teen rustyd besorg. Die plaasvervanger Samukelo Kabini het die wendoel aangeteken nadat Seydouba Cisse van Guinee die telling gelyk gemaak het. Die uitslag is ‘n eerste oorwinning vir afrigter Pitso Mosimane met sy terugkeer na die span. Suid-Afrika se volgende wedstryd in Groep D is Woensdag teen Eritrea in Kaïro, Egipte.
# En rugby: Suid-Afrikaanse spanne het skoonskip gemaak in die openingsronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Leeus het die verdedigende kampioene, Leinster, met 27-26 op Ellis Park geklop, met Erich Cronjé wat twee van hul drie drieë gedruk het. Die Haaie het die Ospreys met 41-24 in Durban verslaan en vyf drieë gedruk, waaronder twee deur Luan Giliomee. Die Bulle het gisteraand die segetog voltooi met ‘n oorwinning van 47-13 oor Zebre Parma in Italië, waar hulle sewe drieë gedruk het. Vrydag het die Stormers vir Connacht met 29-15 in Galway geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….