Nuus 13:00
BULLETIN 26 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tiende vrou se liggaam in Ekurhuleni gevind
# Meer as een-duisend-800 vragmotors per dag is by die Lebombo-grenspos verwerk
# En tennis, Jannik Sinner stel sy terugkeer uit en onttrek aan die Chinese Ope
# Die polisie ondersoek ʼn moord nadat ʼn vrou se liggaam vanoggend in Tembisa-Suid se Vusimusi-gebied in Ekurhuleni gevind is. Die ontdekking volg na nege vroue se liggame die afgelope twee maande in Kemptonpark en omliggende gebiede ontdek is. Die polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê ondersoekers is op die misdaadtoneel:
# COSATU verwelkom die verlenging van die Eskom-raadsvoorsitter, Mteto Nyati, se kontrak. Die vakverbond loof Nyati, die vorige raad, uitvoerende hoof Dan Marokane en Eskom-werkers vir wat hy noem ‘n reusepoging om beurtkrag te oorwin. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê hulle bly gekant teen Eskom se ontbondeling en waarsku dit kan die nutsdiens se vordering ondermyn, werksgeleenthede bedreig en die weg baan vir privatisering:
# ActionSA het die Verkiesingskommissie gevra om ondersoek in te stel na die beweerde verwydering van sy verkiesingsplakkate deur individue wat volgens die party deur die DA gehuur is of in hulle belang optree. Dit volg na ʼn video op X waar twee mense blykbaar ActionSA-plakkate verwyder en DA-plakkate opsit. ActionSA-voorsitter Michael Beaumont sê die kommissie moet die voorval ondersoek en die DA vra wat gebeur het. Hy sê die Verkiesingsgedragskode verbied die onwettige verwydering of beskadiging van verkiesingsplakkate.
# Die Grensbestuursowerheid en Suid-Afrikaanse Inkomstediens sê meer as een-duisend-800 vragmotors is in ʼn enkele dag by die Lebombo-grenspos in Komatipoort, Mpumalanga, verwerk. Dit word toegeskryf aan ʼn voortslepende opeenhoping. Die owerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê hulle werk saam met Mosambiekse owerhede en ander rolspelers om die deurgang van verkeer te verbeter terwyl grens- en doeanebeheer gehandhaaf word. Sy sê die opeenhoping word toegeskryf aan hoë verkeersvolumes, infrastruktuur-kapasiteit en bedryfstoestande aan beide kante van die grens:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het aan volgende week se Chinese Ope in Beijing onttrek, wat sy terugkeer tot mededingende tennis nog verder vertraag. Die Italianer is sedert sy oorwinning op Wimbledon in Julie weens ‘n kniebesering buite aksie wat hom ook die Amerikaanse Ope laat misloop het. Sinner sê sy knie is nog soos hy dit graag wil hê nie. Hy sou sy Chinese Ope-titel verdedig nadat hy die toernooi verlede jaar gewen het. Sinner sê hy sal alles in sy vermoë doen om so gou moontlik na die baan terug te keer.
# En ten slotte, die DA sê hy is bekommerd oor tekorte aan voorbehoedmiddels by verskeie gesondheidsfasiliteite, terwyl die Departement van Gesondheid voorberei om op die eerste van volgende maand na ‘n nuwe nasionale verskaffingskontrak oor te skakel. Volgens die party is voorbehoedmiddels wat algemeen gebruik word, insluitend daaglikse pille soos Triphasil en Nordette, nie by verskeie klinieke beskikbaar is nie. Michele Clarke van die DA is bekommerd dat die oorgang daartoe kan lei dat vroue nie toegang tot hul gekose voorbehoedmiddel het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………