Nuus 09:00
BULLETIN 26 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU vra vir Masemola se onmiddellike heraanstelling
# Drie Parlementêre komitees is bekommerd oor grondwaterbesoedeling by Eskom se Kusile-kragstasie
# En sokker, Ellis fokus op kwalifisering vir 2028 Olimpiese Spele vir Banyana Banyana
# Die vakverbond SAFTU vra president Cyril Ramaphosa om die voorkomende skorsing van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, op te hef. Die aanklagte teen Masemola oor die SAPD-tender aan Medicare24 is Dinsdag in die Pretoriase landdroshof teruggetrek nadat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging bevind het daar is geen redelike vooruitsig vir ‘n suksesvolle vervolging nie. SAFTU-woordvoerder, Asive Dyani, is ook bekommerd oor vrae rondom die aanvang van die vervolging:
# Die parlementêre portefeuljekomitees oor Elektrisiteit en Energie; Bosbou, Visserye en die Omgewing; en Water en Sanitasie het kommer uitgespreek oor voortgesette grondwaterbesoedeling wat met bronne by Eskom se Kusile-kragstasie verbind word. Die komitees noem herhaalde swak watergehalte, damme wat besoedeling moet beheer wat toeslik, beskadigde dam-voerings, en swakhede in die stasie se geslotekring-waterbestuurstelsel. Eskom sê 25 van 41 regruk-stappe is afgehandel en oppervlakwater se gehalte het verbeter. Die komitees vra die onafhanklike monitering van watergehalte en ʼn hersiene rehabilitasieplan met duidelike sperdatums en toepassingsmaatreëls.
# Die regering en die Nuwe Ontwikkelingsbank het ‘n leningsooreenkoms ter waarde van ongeveer drie-miljard-rand aangegaan om ‘n grootmaatwatervoorsieningsprojek in Limpopo te ondersteun. Die befondsing sal aangewend word vir die eerste fase van die Olifants-bestuursmodelprogram. Die projek sal water aan gemeenskappe en nywerheidsverbruikers in die Mogalakwena-munisipaliteit voorsien, uit die Flag Boshielo-dam in die Olifantsrivier. Die Nasionale Tesourie sê daar word verwag die projek sal watersekerheid versterk en ekonomiese aktiwiteit in die streek ondersteun.
# Die Dierebeskermingsvereniging se Nasionale Raad ondersoek die SAPD-hond, Sky, se dood by die Roodeplaat-fasiliteit in Pretoria. Die raad sê hy het inspeksie gedoen by die fasiliteit, maar wag nog vir noodsaaklike inligting en dokumente voor die ondersoek afgehandel kan word. Intussen het die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, gesê die organisasie kyk ook na SAPD-beleide en -prosedures wat die welstand van die polisie se diere betref. Hy vra ʼn verduideliking oor die uitstaande inligting, toegang tot polisierekords en -fasiliteite, en of enige onmiddellike risiko’s vir diere-welstand ingryping nodig het.
# Sokker: Die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis sê kwalifisering vir die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles is ‘n prioriteit nadat Suid-Afrika die 2027-FIFA-Wêreldbeker vir vroue en die 2026-Afrikabeker vir vroue misgeloop het. Ellis het haar span aangekondig vir die wedstryde teen Madagaskar wat op 9 en 13 Oktober in Bloemfontein plaasvind. Sy sê Banyana sal na die derde ronde deurdring as hulle wen, waar hulle teen Angola of Namibië te staan kan kom:
# En ten slotte, die Johannesburgse Metropolisie waarsku motoriste oor aansienlike verkeersontwrigting vandag in Orlando, Soweto, voor die Bafana Bafana-wedstryd teen Guinee by die Orlando-stadion. Padsluitings begin om 10:00 en sal roetes soos die N17, Soweto-hoofweg, Klipspruit Valley-weg, Martha Louw-straat en Mooki-straat raak. Xolani Fihla van die JMPD doen ‘n beroep op motoriste om hul roetes te beplan en alternatiewe paaie te gebruik en vra toeskouers om vroeg op te daag, aangesien die afskop vir 15:00 geskeduleer is:
Bly ingeskakel vir meer nuus………………