Nuus 08:00
BULLETIN 26 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU vra Masemola se onmiddellike heraanstelling
# Die GOOD-party vra sy regspan om Helen Zille se kieserregistrasie in Johannesburg te ondersoek
# En rugby, die Stormers veg terug en wen hul eerste VRK-wedstryd teen Connacht
# Die vakverbond SAFTU vra president Cyril Ramaphosa om die voorkomende skorsing van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, op te hef. Die aanklagte teen Masemola oor die SAPD-tender aan Medicare24 is Dinsdag in die Pretoriase landdroshof teruggetrek nadat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging bevind het daar is geen redelike vooruitsig vir ‘n suksesvolle vervolging nie. SAFTU-woordvoerder, Asive Dyani, is ook bekommerd oor vrae rondom die aanvang van die vervolging:
# Die GOOD-party staan die DA se aansoek by die Verkiesingshof teen, waarin die DA GOOD se kandidatelyste vir die plaaslike verkiesing op 4 November betwis. GOOD voer aan sy lyste vir proporsionele verteenwoordiging, wat uit enkele kandidate bestaan, is deur die Verkiesingskommissie gesertifiseer en voldoen aan die wet. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die party se regspan ondersoek ook of die registrasie van die DA se burgemeesterskandidaat, Helen Zille, in Johannesburg aan die verkiesingswet voldoen:
# Old Mutual se OM Bank wat in Augustus verlede jaar bekendgestel is, is op koers om teen die einde van hierdie maand een-miljoen klante in te kry. Old Mutual se besluit om die bank te begin, is om weer met Sanlam te kan meeding wat goedkeuring gekry het om teen die eerste kwartaal van 2027 bankdienste in vennootskap met GoTyme Bank aan te bied. Die uitvoerende hoof van OM Bank, Clarence Nethengwe, sê die belangrikste dryfveer vir hul toetrede tot die banksektor was die samevloeing wat tussen bankwese en versekering in die mark plaasvind.
# Die Internasionale Lugvervoer-vereniging doen ‘n beroep op sterker en meer gekoördineerde sifting regoor die lugvrag-voorsieningsketting om gevaarlike goedere wat nie verklaar is nie of verkeerd aangedui is, op te spoor. IATA sê ongeveer 80-persent van die voorvalle met gevaarlike goedere wat in die eerste helfte van verlede jaar aangemeld is, hou verband met versteekte of onverklaarde items, insluitend litiumbatterye, aërosols en e-sigarette. Die vereniging stel ‘n vyfvlakbenadering voor, wat regerings, vervaardigers, versenders, lugrederye, grondhanteringsdienste en lughawens betrek, om veiligheid en die deel van inligting te verbeter.
# Rugby: Die Stormers het hul Verenigde Rugbykampioenskap-openingswedstryd gisteraand teen Connacht in Galway met 29-15 gewen. Die span van Kaapstad het met 10-nul voorgeloop voor twee drieë laat in die eerste helfte hul Ierse gashere teen rustyd ʼn 12-10-voorsprong gegee het. Die Stormers het met die plaasvervanger-stut, Sazi Sandi se hulp teruggeveg, voordat laat drieë deur Vernon Paulo en Ezekiel Ngobeni die bonuspunt-oorwinning beklink het. Warrick Gelant het ook punte bygedra vir die Stormers, wat volgende teen Edinburgh in Skotland te staan kom.
# En ten slotte: Cupcakes of Hope doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om vandag, vir Nasionale Kolwyntjiedag, “Cupcake Angels” te word. Meer as 80 winkelsentrums, asook skole, werkplekke en gemeenskappe, sal deelneem deur kolwyntjies te bak en te verkoop om fondse in te samel vir kinders met kanker en hul gesinne. Die stigter van die organisasie, Sandy Cipriano, sê meer as twee-duisend “Cupcake Angels” het verlede jaar meer as twee-miljoen-rand ingesamel , terwyl die organisasie elke maand meer as 140 kinders ondersteun het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….