Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse farmaseutiese bedryf het gewaarsku dat hy teen Oktober vanjaar ‘n algemene styging in medisynepryse van 2,88-persent in die vooruitsig stel. Dit is die tweede aanpassing vanjaar en is as gevolg van verhoogde insetkoste. Die bedryf het ook gewaarsku dat daar tekorte mag voorkom wat sekere medisynes betref.
# Die Papier:
Berig eerstens breedvoerig ná ‘n indiepte-onderhoud met die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell. Kwessies soos die lys Suid-Afrikaners wat nie in die VSA toegelaat word nie, AGOA, wit volksmoord en die verhouding tussen die land en die VSA word aangespreek.
En tweedens skryf die koerant oor Ernst Roets en Lex Libertas se Witkruis-projek in Amerika. Roets sê die kruise verteenwoordig moorde op wit en swart boere, maar Barend la Grange van die Afrikaanse Vereniging van Suid-Afrika sê hy is bekommerd oor die uitwerking van die projek op toerisme.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig twee lede van die ANC se aansoek teen die party se Oos-Kaapse kandidaatlys is deur die Hooggeregshof in Makhanda van die hand gewys. Die ANC sê daar is kanale waardeur lede hul griewe kan lug.
En tweedens skryf die webblad die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie het sy kommer uitgespreek oor die onakkuraathede in die polisie se statistiek oor misdade teen vroue en kinders.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf president Cyril Ramaphosa gaan die land na verwagting binnekort toespreek oor die regering se reaksie op geslagsgeweld en die ondersoek na die moorde op vroue in en om Ekurhuleni. Hy het dit gister aangekondig tydens sy toespraak by die Nasionale Erfenisdagvieringe in Oudtshoorn.
# Sowetan:
Berig Ramaphosa het tydens sy Erfenisdag-boodskap gesê geslagsgeweld is ‘n nasionale skande en kan nie deel wees van die land se erfenis nie. Hy het ‘n beroep gedoen dat die volgende geslag ‘n veiliger Suid-Afrika sal erf.
# En The Citizen:
Lei met: “WHEN BOSS BECOMES BEAST”. Die koerant skryf oor die teistering van vroue in die werkplek deur ‘n persoon in ‘n gesagsposisie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig verder oor die selfdood van die 42-jarige prokureur en likwidateur van Pretoria, Christopher Roos, wat sy seun en ma in dieselfde voorval doodgeskiet het. Die koerant skryf daar was doodsdreigemente voor die voorval en sy eksmaat het glo ‘n hofbevel teen hom verkry.
En tweedens skryf die koerant drie mans is in hegtenis geneem toe hulle probeer het om ‘n verkeerslig wat in Kenilworth in ‘n ongeluk beskadig is weg te dra. Hulle manewales is op video vasgelê.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Lei met: “A HERITAGE OF PRIDE AND PAIN”. Die koerant berig oor die deurbrake wat reeds gemaak is met die beskerming van erfenisskatte in Nelson Mandelabaai, die gebiede waar ingryping nodig is en laastens die erfenisterreine soos museums en parke wat in totale verval is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die Meksikaanse Sinaloa-dwelmkartel het ‘n kristalmetamfetamienlaboratorium op ‘n plaas naby Swartruggens opgestel om Australië en Nieu-Seeland, die winsgewendste markte vir dié middel ter wêreld, te voorsien.
En tweedens skryf die koerant die St Lucia-meer word tans bedreig wat sy status as ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied in gevaar kan stel. Die riviermonding ondergaan ‘n “ekosisteem-omwenteling” na ‘n varswater-vleiland, wat kan lei tot die uitwissing van mariene visspesies en ‘n afname in die biodiversiteit van die gebied.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor die uitbreking van bek-en-klouseer in Namibië. Die Grootfontein-, Gobabis- en Windhoek-skoue moet voortgaan sonder beeste en kleinvee. Die hoofstaatsveearts het boere ook intussen gemaan om nie onwettige bek-en-klouseer-entstowwe in te voer of diere binne die bek-en-klouseer-vrye sone in te ent nie.
En tweedens skryf die koerant die minister van Stedelike en Landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het die gedrag van sommige parlementslede met dié van honde vergelyk.