Nuus 16:00
BULLETIN 21 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevestig meer befondsing vir die stryd teen geslagsgeweld
# Die polisie verbind die moord op die negende vrou in Ekurhuleni met ‘n beweerde liefdesdriehoek
# En tennis: Span Suid-Afrika is verras deur die hoë spelgehalte van Bosnië en Herzegovina in die Davisbeker-kragmeting
# President Cyril Ramaphosa het op die ANC-veteraneliga se presidensiële gholfdag reageer op die moorde op nege vroue in Ekurhuleni en sê mans moet meer doen om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp. Hy herhaal die onding van geslagsgeweld en vrouemoord is ‘n nasionale krisis. Ramaphosa sê mans moet vroue respekteer en eerbiedig, terwyl die regering meer hulpbronne, befondsing en tegnologie sal beskikbaar stel om die vrees hok te slaan waarin vroue leef:
Die Gautengse polisie sê intussen die moord op Jabulile Ntimba, wie se liggaam verlede week in Dawnpark, Boksburg, gevind is, hou moontlik verband met ‘n liefdesdriehoek. ‘n Man en twee vroue is in hegtenis geneem en sou na verwagting vandag in die Boksburgse Landdroshof verskyn. Die adjunk-nasionale polisiekommissaris, Tebello Mosikili, het op ‘n nuuskonferensie gesê voorkeur word gegee aan al nege sake van die vroue wat in Ekurhuleni vermoor is:
# Die sakeman Joe “Ferrari” Sibanyoni sê die veiligheidsonderneming Gubis85 het vir hom ‘n bakkie geskenk as ‘n blyk van waardering vir hul verhouding. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig die onderneming het skriftelik bevestig die geskenk is vir sy verjaarsdag en hou nie verband met enige kontrak, guns of verkrygingsgeleentheid nie. Sibanyoni het op vrae van kommissaris Sesi Baloyi geantwoord daar was reeds ‘n lang verhouding tussen Gubis85 en sy stigting:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het bevestig die befondsing vir 357 studente in uitgebreide programme van die Nelson Mandela-universiteit se kampusse in Gqeberha in die Oos-Kaap en George in die Wes-Kaap is herstel. Dis vroeër teruggetrek weens foutiewe kwalifikasiekodes. Die aankondiging is gedoen tydens die amptelike besoek van die adjunkminister van Hoër Onderwys, Yusuf Cassim. Minister Buti Manamela het intussen beloof NSFAS-toelaes en studiegelde sal betyds uitbetaal word vir 2027.
# Tennis: Suid-Afrika se spankaptein, Pietie Norval, is verras oor Bosnië en Herzegovina se hoëgehalte-vertoning in die naweek se Davisbeker-wêreldgroep Twee-kragmeting in Centurion. Die besoekers het gister die deurslaggewende dubbelspel gewen voordat hulle die omgekeerde enkelspel ook ingepalm het vir ‘n oortuigende oorwinning van 4-0. Norval sê hulle het gehoop dat die hoogte bo seespieël en vinnige hardebaantoestande in hul guns sou tel. Suid-Afrika hoop om terug te bons in die uitspeelrondes wat vroeg volgende jaar gehou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-41-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-352-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….